Vir kleinskaalboere in Loeriesfontein word dit al moeiliker om vee gesond te hou tydens langdurige droogtetoestande. Kwynende weiveld en stygende voerkoste plaas toenemende druk op boerderyhuishoudings.
Teen hierdie agtergrond het 104 kleinskaalboere ‘n ruk gelede broodnodige veevoerondersteuning ontvang, wat gehelp het om troppe gedurende ’n besonder uitdagende tydperk te onderhou. Die begunstigdes, wat lede van die gebied se twee geregistreerde boereverenigings is, verteenwoordig die oorgrote meerderheid van kleinskaalboere in die plaaslike gemeenskap.
Die ondersteuning is as deel van ’n plaaslike ondernemingsontwikkelingsinisiatief verskaf na aanleiding van ’n befondsingsversoek van een van die twee boereverenigings. Oor ’n tydperk van drie maande het boere 50 kg-sakke voerpille, mielies en ’n melasse-basis proteïenaanvulling met energie en minerale ontvang.
Om te verseker dat die ondersteuning boere regverdig en volgens behoefte bereik, is voertoekennings volgens die grootte van elke boer se trop bereken.

Ondersteuning op regte tyd
“Ons is ontsettend dankbaar vir die voer. Met die droogtetoestande sou ons regtig gesukkel het sonder hierdie hulp. Die ondersteuning het op net die regte tyd gekom. Ons kan eenvoudig nie bekostig om self voer te koop nie,” sê een begunstigde boer.
Die ingryping, befonds deur die Loeriesfontein- en Khobab-windkragaanlegte, erken die belangrike rol wat veeboerdery in Loeriesfontein speel, waar skaapboerdery ’n kerndeel van die plaaslike ekonomie is. Vir boere wat op hul troppe staatmaak om ’n inkomste te skep, het veeverliese ’n direkte impak op hul gesinswelstand.
“Loeriesfontein is bekend vir sy veebedryf. Deur boere te help om gesonde vee tydens uitdagende tye te onderhou, dra ons by tot die volhoubaarheid van lewensbestaan waarop die breër gemeenskap staatmaak,” sê Gwynne-Lee Borcherds, bestuurder van Maatskaplike Programme vir die Loeriesfontein- en Khobab-windkragaanlegte.
Benewens onmiddellike droogteverligting het die inisiatief ten doel om by te dra tot die langtermyn-volhoubaarheid van plaaslike boerderylewensbestaan. Die langtermynvisie is dat kleinskaalboere groter troppe kan opbou, toegang tot beter boerderygeleenthede verkry en moontlik na kommersiële-skaal landbou kan uitbrei, insluitend deur geleenthede om vir regeringsplase te tender.
LEES OOK: Deelname versterk gesinstruktuur, ondersteun ouers en kinders





