Christi van Niekerk
Christi van Niekerk FOTO: Verskaf

’n Noord-Kapenaar wat “met baie liefde in die mooi area” van die Marchand-omgewing tussen Augrabies en Kakamas grootgeword het, glimlag steeds breed nadat die bekende Laurika Rauch een van haar liedjies gesing en opgeneem het.

Christi van Niekerk, in 2016 ’n matrikulant aan die Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas, sing boonop saam met Rauch die liedjie “Liewe Lewe”.

Ná die uitreiking van die liedjie het Rauch op haar Facebook-blad geskryf: “Christi – dankie vir jou pragtige liedjie en dat jy bereid was om dit met my te deel en toe sommer saam met my te sing! Ek wens jou alles van die beste vir jou blink toekoms toe!”

Van Niekerk se liedjie is Rauch se eerste enkelsnit wat in byna agt jaar uitgereik is.

“Dit was so lekker om saam met haar te werk,” vertel Van Niekerk oor haar ontmoeting met Rauch.

“Sy is plat op die aarde en ’n absolute legende. Sy sal tot vandag toe vir my terugvoering gee as ek vir haar iets nuut stuur of vrae het.”

Van Niekerk het in 2022 liedjies begin skryf toe sy die werkswêreld betree en haar voete begin vind het.

Christi van Niekerk. Foto: Verskaf

Oor “Liewe Lewe” vertel sy dat dit iets was wat moes gebeur, en sy het dit baie gou geskryf en afgewerk.

Van Niekerk is aan die begin van die jaar deur Carien Loubser, regisseur en vervaardiger van die VIA-musiekprogram Klanke van my hart, genader om aan ’n episode deel te neem. Loubser is ’n kennis van Rauch en het “Liewe Lewe” vir Rauch gespeel.

Rauch het toe glo gesê dat sy onmiddellik by die liedjie aanklank gevind het.

Van Niekerk het die liedjie getoonset en is vol lof vir Johan Viljoen van Potchefstroom wat haar met die produksieproses van die oorspronklike liedjie gehelp het.

Oor wat haar inspireer om ’n liedjie te skryf, sê sy: “Ek dink basies alles inspireer my. Omstandighede, opgewondenheid, dalk hartseer. Party dae sommer ’n woord wat ’n mens raaksien.”

Die omgewing waarin sy grootgeword het, speel steeds ’n rol.

“Ek is baie trots om te sê ek kom van Marchand af. As ek lanklaas by die huis was en ’n bietjie daar kan kuier, word ek baie keer van voor af daar inspireer.”

Christi van Niekerk

Van Niekerk bespeel die kitaar en die ukelele, “maar ook nie regtig nie,” sê sy.

“Ek leer maar so saam met die skryf (van die lirieke) en ek leer akkoorde soos wat ek aangaan.

“Dit is ’n bietjie frustrerend, maar ek dink op ’n manier help dit ook met die skeppende proses. Ek tel die ukelele op en soek na dit wat in my kop is.”

Sy is gaande daaroor om liedjies te skryf, meestal in Afrikaans, want “ek is maar lief vir my taal”, en sal dit graag so ver as moontlik wil neem.

Van Niekerk het BCom bemarking en toerismebestuur aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom studeer, en is nou werksaam as ’n bemarker by die Potchefstroom Akademie.

Haar ouers, Christo en Petro van Niekerk, woon steeds by Marchand.

“Liewe Lewe” is Van Niekerk se derde liedjie wat sy op musiekplatforms beskikbaar gestel het; altesaam het sy reeds vyf liedjies uitgereik.

Haar volgende liedjie behoort teen die einde van Oktober op musiekplatforms beskikbaar te wees, met moontlik ’n musiekvideo op YouTube.

Luister die liedjie hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article