LEWENDE WATER | Lydenstyd bring genade en plek van eerlikheid

Illustrasie van lewende water vir geestelike rubriek.
Lewende water, waar stilte is. FOTO: Helena Barnard

Met Aswoensdag tree ons Lydenstyd binne – 40 dae waarin die kerk stadiger loop, sagter sing en dieper nadink. Hierdie seisoen bereik sy klimaks op Goeie Vrydag, wanneer ons stil word by die kruis van Christus.

Vir baie voel Lydenstyd somber. Die helder lofliedere van Advent maak plek vir die ernstige toon van lydensgesange. Ons sing lied 38 vers 2: “Ja, ek kos Hom die slae, die smarte en die hoon / Vir my hang Hy, verlate en naak, met doringkroon / Vir my was daardie wonde, vir my moes Hy daar staan; / Hy moes vir al my sonde die bitt’re kruisweg gaan

Dit is woorde wat diep sny. Lydenstyd herinner ons dat die kruis nie ‘n abstrakte gebeurtenis is nie. Dit was ons sonde, ons selfgerigtheid, ons hardheid van hart wat Hom daar gebring het.

Lydenstyd bring ons na ‘n plek van eerlikheid. Gestroop van selfvoldaanheid ontdek ons weer hoe nodig ons die genade van God het.

In die Evangelie volgens Markus 8:34 hoor ons Jesus se ernstige uitnodiging: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg.”

Dissipelskap is ‘n pad van oorgawe. ‘n Pad waar ons leer om minder op onsself en meer op Christus te vertrou.

Tog is Lydenstyd nie ‘n tyd van wanhoop nie. Dit is ‘n tyd van genade. By die kruis sien ons nie net die erns van sonde nie, maar die diepte van God se liefde. Die Een wat sonder sonde was, het gewillig ons plek ingeneem. Wat vir ons oordeel moes wees, het vir ons redding geword.

Hierdie 40 dae is daarom ‘n pelgrimstog van die hart. Wanneer ons vas, bid of eenvoudiger leef, doen ons dit nie om God te beïndruk nie, maar om ruimte te maak – ruimte vir sy Woord, sy Gees, sy vormende werk in ons lewe.

Mag Lydenstyd ons weer by die voet van die kruis bring. En mag ons daar, in ootmoed en dankbaarheid, die wonder ontdek: God se genade is groter as ons sonde.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article