Alan Winde by Meiringspoort na oorstromings.
Premier Alan Winde en lede van die soek-en-reddingspan by Meiringspoort. FOTO: Facebook

OUDTSHOORN – Meiringspoort is Saterdag laatmiddag heropen nadat dit weens oorstromings, rotsstortings en onveilige padtoestande gesluit is. Swartbergpas is steeds vir verkeer gesluit.

Dié sluitings is genoodsaak nadat tussen 40 mm en 80 mm reën tydens ‘n wolkbreuk oor die Matjiesrivier-omgewing uitgesak het. Dit het tot kitsvloede, oorstromings en gevaarlike padtoestande gelei.

Die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertius Simmers, het Saterdag laatmiddag bevestig dat Meiringspoort, tussen Klaarstroom en De Rust, en op die roete tussen Beaufort-Wes en Oudtshoorn, weer vir verkeer oopgestel is. Volgens die departement duur opruimings- en herstelwerk steeds voort, en motoriste word versoek om versigtig deur die poort te ry en alle padtekens en instruksies van amptenare te gehoorsaam.

Dele van Meiringspoort wat vroeër die week oorstroom het. VIDEO: Verskaf

Swartbergpas tussen Prins Albert en Oudtshoorn bly egter gesluit weens groot rotse wat op die pad beland het, asook gevaarlike, gladde rytoestande weens modder. Die pas sal tot verdere kennisgewing gesluit bly.

Meiringspoort vroeër vandeesweek. FOTO: Facebook / SA TRUCK KING

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het die Meiringspoort-omgewing Saterdagoggend besoek. Hy het gesê soek-en-reddingspanne werk reeds sedert Vrydag in die gebied. ‘n Helikopter is ingespan, en mense wat in die passe vasgekeer was, is na veiligheid gebring. Die persone sluit onder meer enkele vragmotorbestuurders, toeriste, en ander motoriste in. Na bewering was ongeveer 50 persone vasgekeer.

Winde het Saterdagoggend gesê opruimingspanne werk van albei kante van Meiringspoort met die doel om dié roete Saterdag reeds oop te stel.

Lede van die soek-en-reddingspanne saam met die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde. FOTO: Facebook

Feesgangers wat die KKNK besoek, wat van 28 Maart tot 4 April in Oudtshoorn plaasvind, asook alle ander padgebruikers, word versoek om padwaarskuwingstekens te gehoorsaam. Wees ook bedag daarop dat spanne wat opruiming doen, steeds in Meiringspoort werksaam is.

Die Swartbergpas sal tot verdere kennisgewing gesluit wees.

In geval van nood kan die Garden Route Noodoproepsentrum by 044 805 5071 geskakel word of via WhatsApp by 081 709 5193.

LEES OOK: Flooding forces three-week closure of Botswana’s Moremi Game Reserve

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article