Rooyma is besonder dankbaar vir pasaangeërs. Nie net die soort wat harte aan die gang hou nie, maar ook dié wat help met lewensbelangrike funksies wat veelvuldige sklerose soms belemmer.
Ons leef in ‘n tyd van mediese wonderwerke, genadiglik. Kort ná die prosedure, met Rooyma nog effens bedwelmd maar dankbaar, raak sy met haar hospitaalbuurvrou se ma, ‘n kindersielkundige, aan die gesels. Al ken hulle mekaar van g’n Evaskant nie, word kennis uitgeruil.
Rooyma deel haar ervaring met ‘n klein toestelletjie wat ‘n groot verskil maak. Die kenner deel ouerskapwysheid.
“Nee,” sê sy ferm, “kinders moet grense hê en dit ken. Oortredings moet gevolge hê en ouers moet kan onderskei wanneer die kind hulle om hul pinkie draai.”
Net voor haar opname het die Rooymiere se ma nog gewonder of sy die vorige aand te kwaai was om die tradisionele Uno Flip-ronde ná skottelgoedwas te kanselleer omdat die sibbe die soveelste aand nie hul skottelgoed in die wasbak gesit het nie.
Omdat ouerskap ‘n doolhof sonder kaart, nooduitgang of handleiding is, leen Rooyma graag haar ore vir raad uit. Sy waardeer dit wanneer ‘n ervare ouer vertel hoe hulle die pas tuis aangee.
Danksy Rooypa, wat die afgelope twee weke die pas aangegee het vir die 05:00-drafspan van vyf, kon Rooyma rustig herstel ná haar operasie. Selfs ‘n lid wat van ‘n knie-operasie af terugkeer, kon weer inskakel – stadig en sonder bravade.
Nes ‘n hartlyer afhanklik is van ‘n pasaangeër, is ons van ander “villagers” afhanklik om ons te help om tempo (en kop) te hou sonder dat individualiteit of pasgemaakte huisreëls ingeboet hoef te word.
Pasaangeërs is nie net mediese toestelle nie. Party dra tekkies en ander is onbekendes-wat-kennisse-word langs jou hospitaalbed.



