“My body says I’m getting old. My mind says I’m not, but when I stand up, everything goes snap, crackle and pop.” – Onbekende skrywer.
Ons ou diere moet maar voor die rakke in die supermark gaan staan en staar. Daar by die pille-en-brille-afdeling waar jy rate kan kry vir ouderdom, jig, jeukery en dies meer.
Geen mens of dier kan ouderdom en die gepaardgaande aftakeling ontsnap nie. Ons waardeer selde ons jong, soepel lywe, stywe vel en skerp sintuie wanneer ons dit het. Eers wanneer die lig begin taan, besef jy wat deur jou vingers geglip het.
Destyds het ons troeteldiere ook geval, gejag en agter plastiekbottels met water in die gang af gejaag.
Hulle het akkedisse bekruip, voëls geterg en gate gegrou tot die stof gestaan het.
Mense, weer, het uit bome geval, van fietse getuimel en enkels geswik. Ons het ons binneste misbruik deur bloeddruk op te jaag, harte vinniger te laat klop van dans, hardloop en simpel wees.
Die lewe was ‘n reeks verpligtinge: werk toe en terug, huis skoonmaak, tuinwerk, op dakke klim en onder karre inkruip.
Dit is hoe mens en dier hul bene, senings, spiere en kollageen gemergel het. Die rekening kom egter altyd later aan.
Een of ander tyd haal die slytasie jou in. Dan het ek nog nie eens gepraat van die moderne kwale nie: bloeddruk, suikersiekte, nier- en hartsiektes wat soos diewe in die nag jou liggaam kom aanval.
Nou is ons honde op pille, en ons op pille en brille.
Die les is eenvoudig: Pas jouself en jou gesondheid op. Of jy nou op twee of vier bene loop, jy het net een liggaam en een leeftyd.
Moenie wag totdat die “snap”, “crackle” en “pop” ‘n oorverdowende orkes word voordat jy begin luister nie. Jy het net een lewe, een leeftyd. Waardeer dit.



