“All of life is a continuous state of wonder interrupted by bedtime and light snacks.” – Joyce Rachelle
Die dekselse kas in die kombuis. Daar is eetgoed daarbinne wat die luste in jou binneste wek. Jou met ‘n stem begogel en roep. Jou naam, jou van, jou geboortedatum.
Die kas en sy inhoud soek jou nou. Nie later nie.
Hy bied ook die nodige verskonings. O, jy moet bene rek; jy moet die kamerverlaat besoek; jy moet gaan kyk wat buite aangaan; enigiets, solank jy verby die kas moet loop.
Sodra jy nader kom, is dit asof die deure vanself met volle oorgawe oopgaan, jou verwelkom en betowering soos ‘n net oor jou gooi.
Jou arms reik onwillekeurig uit, jou hande tas gebiedend rond, jou oë raak verstar op die lekkertjies, die tjippies, die koekies.
Alles. Alles wat lekker is en wat vra om verorber te word. Is dit nie so dat dit binnekort verval en jy dit maar moet opeet nie?
Moet ook nie vergeet van Meneer die Yskas nie. Hy is net so gebiedend om oopgemaak en van kos verlos te word.
Hy wil gewig afskud, jy kan dit maar optel.
Jy doen moes oefeningtjies elke oggend, dan nie? Daardie spieël is só eerlik – net soos ‘n vetgevrete politikus met drillende wange en ‘n speknek.
Jy skandeer die inhoud soos ‘n speurder, verby die tamaties en blikke boontjies. Jy stoot dit byna veragtelik eenkant toe, beur na die stoute hoekie met verborge sjokolade of ‘n vergete pakkie skyfies.
Wees egter gerus.
Peuselhappies gaan oor die oorgang van chaos na rus.
Dit is ‘n klein, private rebellie teen die struktuur van etenstye en werksure. Die gesteelde oomblikke bied troos wat ‘n formele aandete eenvoudig nie kan ewenaar nie.
Jy soek eintlik net ‘n klein bietjie geluksaligheid in ons wilde wêreld, dan nie?



