KAMEELDORING | Geeneen is ‘n eiland nie – ons het mekaar nodig

Geeneen is 'n eiland, ons het mekaar nodig
Mense het mekaar nodig. FOTO: Unsplash / Krakenimages

Geen Rooyspanlid is inderdaad ‘n eiland nie. Rooyma is opnuut dankbaar vir die mense om haar nadat sy amper ‘n week uit sosiale sirkulasie was weens ‘n “hardnekkige” (Rooypa se woord) kuggie en verkouesimptome onder haar kroos.

Haar Rooymiertjies is ook dankbaar vir ander mense, want “Teacher Mommy” se nerwe was met tye dun en haar lont kort – totdat sy eindelik voet buite die pastorie-palisades gesit het.

Die tafelvol Brei-en-Babbel-tannies bemoedig Rooyma wanneer die Rooymiertjies se maniertjies wil-wil hand uitruk. Soms tree hulle selfs vir die kindertjies in en stel ‘n verslapping in Rooyma se ystergreep voor. Die deel van doepas en boererate is so tuis soos koek en wol in dié geselskap.

‘n Impromptu-uitnodiging van vriende na ‘n nabygeleë Portugese restaurant word verwelkom ná wat voel soos ‘n lang dag van sneesdoekies, loopneuse en opvoeding.

Daar is min eliksers soos saamlag en -kuier, en selfs “inligting uitruil”, om ‘n mogge-troffe-gees op te beur.

Tydens een van Rooyma se kort-lont-oomblikke nooi Rooypa haar wys vir ‘n “stappie om die blok”. Dít kan soms tot ‘n uur neem. Veral as lidmate teegekom word. Deur ‘n oop bakkievenster word enigiets van resepte tot Valentynsdag-idees uitgeruil. Dié soort interaksies, saam met die endorfiene van oefening, speel gou klaar met Rooyma se nukkerigheid.

In die koerant lees Rooyma oor Johannesburg se waterlose haarkappers. Afgesien van hul moedeloosheid, inspireer die mense se planne en humor haar.

Dit is toe sy weer besef: Mense het mekaar nodig. Danksy Ouma Lappies kan plofbare situasies deëskaleer wanneer die Rooymiere in haar sorg geneem word sodat hul ouers “tekkies-terapie” kan kry.

Die wonder van ‘n onwelkome pes, is die insig wat daarop volg: Ons het mekaar nodig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article