Historiese samewerking tussen skole bring astroturfhokkiebaan na Kimberley

Eerste hokkiewedstryd op die nuwe baan.
Hokkiespelers wat ‘n eerste wedstryd op nuwe astroturfbaan gespeel het. Foto: Facebook

Twee van Kimberley se oudste skole het geskiedenis gemaak deur met die visualisering en opening van ‘n gedeelde moderne astroturfhokkiebaan grense af te breek en geleenthede vir jong atlete oor die Noord-Kaap heen te skep.

Só meen die skoolhoofde van die Hoërskool Diamantveld en Kimberley Boys’ High School (KBHS) by die openingsgeleentheid op Donderdag 18 September op KBHS se terrein.

‘n Gesamentlike orkes van dié twee skole, asook van Kimberley Girls’ High School, het die musiek verskaf, pom-pon meisies van Diamantveld het gedans terwyl KBHS se drilpeloton in gelid langs die heining gestaan het. Hokkiewedstryde is tussen die senior meisies- en seunspanne van die betrokke hoërskole gespeel.

Francois de Kock, hoof van die Hoërskool Diamantveld, en Xolile Taba, hoof van Kimberley Boys’ High School, tydens die opening van die astroturfhokkiebaan wat saam deur dié skole ontwikkel is. Foto: Facebook/Hoërskool Diamantveld

Xolile Taba, skoolhoof van KBHS, kon skaars sy opgewondenheid beteuel oor dié baanbrekersamewerking tussen sy skool en die aangrensende Diamantveld.

Die baan is met behulp van die niewinsgewende organisasie Kimberley Community Development NCP gebou wat sowat R10miljoen ingesamel het en die projek bestuur. Volgens Taba is dié vennootskap iets ongekend in Suid-Afrikaanse onderwys by twee skole wat voorheen deur taal en ‘n straat geskei is.

“Ons het verenig in ons gemeenskaplike doel om kinders holisties deur sport te ontwikkel. Ons gemeenskaplike doel is sport wat dieselfde reëls vir almal het. Daar is nie Afrikaans of Engels op die baan wanneer atlete speel nie.” – Xolile Taba, skoolhoof Kimberley Boys’s High School

Hy sê die baan vervul ‘n kritieke behoefte in die Noord-Kaap waar deelname aan hokkie dramaties afgeneem het weens die koste van behoorlike speeloppervlaktes.

Dié skool het voorheen talle hokkiespanne gehad wat op grasvelde gespeel het. Groot rotse onder die grasbaan het dit moeilik gemaak om nat te lei en in stand te hou.

ALSO READ: Future yields of major sport hub cultivated between two schools

Taba glo die strategiese ligging van die baan op die hoofpaaie tussen Johannesburg, Bloemfontein en Kaapstad is soos ‘n advertensie dat Kimberley se skole ook uitstekende sportgeriewe het. Hy sê dit mag selfs beleggers lok wat in Kimberley wil belê. Een van sy primêre doelwitte is die behoud van plaaslike talent. “Ons kan ons leerlinge behou en ander van ander provinsies lok.”

‘n Gesamentlike orkes van drie hoërskole in Kimberley het musiek verskaf. Foto: Charné Kemp

Die baan sal ook deur laerskole en hokkieklubs benut kan word omdat dit in die middel van die stad is. Taba sien die hokkiebaan as ‘n vergestalting van Nelson Mandela se visie van sport wat mense verenig, ook met verwysing na die 70ste herdenking van die Vryheidsmanifes.

Taba hoop die departement van onderwys kan vir spreiligte betaal sodat die baan saans gebruik kan word.

“Kan jy jou indink hoe Kimberliete elke aand en naweke op die baan sal speel wanneer dit nie so warm is nie,” sê hy.

Vir Taba is die baan ‘n simbool van eenheid, vooruitgang en belegging in jong mense se toekoms.

Drilpeloton bekendgestel

Benewens hokkie het Taba ook die skool se drilpeloton bekendgestel, wat in vennootskap met die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ontwikkel is.

“Van ons skool se sleutelareas is akademiese ondersteuning, dissipline en instruksie-ingryping vir jeug- en loopbaanvoorbereiding. Ons het die weermag vir hulp genader om dissipline by ons matrieks te kweek, want ons mik na ‘n 100%-slaagsyfer.

Die nuwe drilpeloton van die Kimberley Boys’ High School staan in gelid om die baan. Foto: Charné Kemp

“Ons wil dissipline in alle grade bewerkstellig sodat hulle na instruksies leer luister. Sommige leerlinge sal na die weermag geneem word om meer van respek en lewenswaardes te leer. Heelwat van ons kinders kom uit enkelouergesinne, en wanneer hulle met buite-invloede te make kry, ontstaan probleme,” sê Taba.

Droom van astroturfbaan heers al lank

Francois de Kock, skoolhoof van Diamantveld, sê die droom om so ‘n hokkiebaan te bou en atlete nuwe geleenthede te gee, heers al lank.

“Die proses en onderhandelinge is twee jaar gelede begin en dit bied nou ‘n goeie geleentheid vir die skole om teen mekaar hokkie te speel. Dit is belangrik dat laerskole ook deelneem sodat leerlinge vroeër hierin ontwikkel. Nou is dit ook baie makliker om klinieke en afrigting aan te bied omdat die baan by ons is.

“Dit sal hokkie in die Noord-Kaap en in Kimberley laat groei. Noord-Kaapse skole moet meer mededingend in hokkie raak; ons vaar reeds goed met netbal en rugby. Ons rugby- en netbalbane is van die beste, maar ons hokkiebane moet ook wees.

“Hoe meer hulle nou op die baan speel en oefen, hoe meer gaan aan dié sport begin deelneem. Dit gee die atlete baie meer geleenthede om uit te blink. Net soos met akademie, moes ons sportgeriewe ook van die beste wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article