Herinnering aan Zonia Titus: ‘n Lewensverhaal van liefde en toewyding

Zonia Titus
Zonia Titus. FOTO: Verskaf

‘n Welbekende en geliefde inwoner van Upington, Zonia Titus (67), se begrafnisdiens vind op Saterdag 6 Desember vanuit die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) in Dawidstraat plaas.

Zonia was in baie opsigte haar familie se steunpilaar – altyd daar om te help en raad te gee.

Met haar siekte het haar familie en vriende bly hoop en bid vir ‘n wonderwerk, maar Saterdagaand 22 November omstreeks 21:06 is Zonia aan vermoedelik ‘n hartaanval in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad oorlede.

Sy was welbekend in sosiale kringe en het ‘n groot impak op diegene wat met haar in aanraking gekom het, gehad.

As finansiële adviseur van Sanlam kon sy haar kliënte goeie raad gee en bystaan waar nodig. By ‘n aantal geleenthede het Sanlam waardering en erkenning aan haar vir uitsonderlike diens en lojaliteit vir meer as 30 jaar gegee. Haar bydrae tot dié versekeringsmaatskappy se besigheidskontinuïteit en volhoubare groei was prysenswaardig as ‘n mens kyk na al die eerbewyse wat in haar huis te siene is.

Zonia was suksesgedrewe in haar werk en ‘n goeie eggenote vir haar man, Eric (70), en hul 33-jarige seun Eon. Haar man is ‘n afgetrede onderwyser.

Rolmodel in talle opsigte

Zonia Myrtle is op 9 Maart 1958 in Upington as die negende kind van wyle Gert en Bonnie Pretorius gebore. Sy het aan die Senior Sekondêre Skool Carlton-Van Heerden in Upington met ‘n universiteitsvrystelling matrikuleer. Daarna het sy haar BA-graad in onderwys aan die Universiteit Wes-Kaapland verwerf en begin skoolhou by die Senior Sekondêre Skool Saul Damon.

Haar pa was destyds baie trots op haar en het altyd gesê Zonia gaan die eerste gegradueerde een in die familie wees. Hy was toe reg!

In die vroeë tagtigerjare het die Upington Onderwyskollege sy deure geopen en Zonia was een van ‘n uitgelese groep onderwysers wat as dosent gedien het. Vir baie van haar studente was sy dié rolmodel. Sy was geliefd onder hulle en óók onder haar kollegas.

Nadat die kollege later noodgedwonge moes sluit weens ‘n ernstige tekort aan finansies en mannekrag, het Zonia ‘n betrekking by Sanlam in Upington aanvaar. Sy het tot en met haar afsterwe die pos beklee.

Gevorderde siekte kom as groot skok

Kort ná haar ma se dood vroeg in Julie vanjaar het Zonia se gesondheid geleidelik verswak en kon ‘n mens waarneem dat sy nie meer die sprankelende en opgeruimde mens was nie. In Oktober het sy baie siek geword en asemhalingsprobleme ondervind. Sy is by Groote Schuur met kanker diagnoseer wat toe alreeds in ‘n baie gevorderde stadium was. Dit het as ‘n reuseskok vir haar gesin en familie gekom.

Saterdagaand 22 November het haar suster, Hilda Saul, die familie in kennis gestel dat Zonia breindood deur die dokters verklaar is.

Zonia laat haar man en seun, drie susters – Hilda, Sylvia en Rhona, asook drie broers – Nick, John en Premarco, asook ‘n breë familie-en vriendekring na.

  • Haar begrafnis vind Saterdag 6 Desember om 09:00 vanuit die VGK Upington plaas.

LEES OOK: Gemeente in Upington herdenk 150ste bestaansjaar in feestelike atmosfeer

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article