Die Noord-Kaapse adjunkregterpresident was Woensdag 18 Maart onthuts toe sy in die hooggeregshof in Kimberley opmerk hoe Salmon Kammies, wat reeds skuldig bevind is dat hy sy lewensmaat wreed vermoor het, gedurende haar vonnisoplegging glimlag.
Net na die regter se teregwysing het hy opgestaan en gepoog om na die aanhoudingselle terug te keer.
Dié optrede het ‘n beroering in die hofsaal veroorsaak met die hofordonnans wat hom probeer keer en weer op sy sitplek probeer dwing het. Kammies het toe op die vloer voor die beskuldigdebank neergesak en hardop gehuil en gesnik, en ontken dat hy glimlag – hy is eerder hartseer en verduur smart. Hy het steeds ontken dat hy skuldig is. Hy het later weer gaan sit toe die regter hom maan om die hof te respekteer.
Adjunkregterpresident Violet Phatsoane het toe haar stem verhef en haar bevindings weer hardop voorgelees.
Kammies (44) van Hopetown is reeds skuldig bevind dat hy Lizel Louw op die nag van 2 Mei 2024 aangerand het, met sy stewels geskop en met ‘n stuk draad aangerand het, waarna hy geslagsgemeenskap met haar gehad het terwyl sy sterwend of reeds dood was. Hy is ook skuldig bevind dat hy Louw op ‘n vorige geleentheid aangerand het met die doel om ernstig te beseer.
Kammies het vier vorige veroordelings waaronder moord (in ‘n voorval waarin hy die gebruik van sy een oog verloor het), handel in dwelms, en huisbraak. Hy is ongetroud, en het geen onafhanklikes nie. Voorheen was hy ‘n plaaswerker in die omgewing.
Uiters wrede moord
Die regter het bevind hy het geen buitengewone of dwingende omstandighede bewys wat haar sal laat afwyk van die minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf nie.
Kaptein Johan Pelser het vroeër getuig dat hy in 35 jaar in die polisie nog nie so ‘n wrede moord gesien het nie.
Vroeër het Johanna Badula, die niggie van Louw wat na Louw se 11-jarige seun omsien, huilend getuig hoe die oorledene se seun wat sy nou versorg, nagmerries kry en vertel hoe hy sy ma mis. Ná die moord is hy eers deur bure versorg, en toe deur sy tante wat hom verwaarloos het.
Badula sien sedert Augustus verlede jaar na die seun om en gebruik haar ander susterskinders se maatskaplike toelae om ook die seun te versorg. Hy kry nie terapeutiese berading ná die wrede dade wat hy op die nag van die voorval aanskou het nie, en in die verhoor oor getuig het nie.
LEES OOK: Kind van vermoorde vrou kan nie slaap nie
Adv. Anel Stellenberg, aanklaer, het vroeër aangevoer Louw se seun het getuig dat die paartjie vroeër die aand by hul huis in Sonneblomstraat gedrink het. Later die aand het hy bevrees aanskou hoe sy ma aanhoudend deur Kammies met sy stewels geskop is. Later het hy haar met ʼn stuk bloudraad geslaan en water oor haar uitgegooi. Sy ma het nie weerstand gebied nie, en Kammies het die seun aangesê om te gaan slaap. Die seun se getuienis het gestrook met die beserings aan sy ma se kop, lyf en bene. Die seun het die gebeure vanuit sy kamer en die kombuis gadegeslaan.
Toon geen berou
Die regter het bevind Kammies toon geen berou oor die wrede wyse waarop hy Louw met ‘n draad geslaan het nie. Sy gedrag in die hof getuig ook van die gebrek aan berou. Die kanse op rehabilitasie is uiters skraal, en hy het nie uit sy vorige veroordelings geleer nie.
Kammies is tien jaar gevangenisstraf vir aanranding met die doel om ernstig te beseer, tien jaar vir lykskending en lewenslank vir die voorbedagte moord opgelê. Dit word samelopend uitgedien.
Voorts het die regter ʼn bevel uitgereik dat die departement van maatskaplike ontwikkeling ‘n maatskaplike werker moet aanstel om die seun se omstandighede te ondersoek asook sy behoefte aan terapeutiese behandeling. Die oogmerk is om hom ‘n permanente tuiste en berading te gee tot voordeel van sy ontwikkelingsbehoeftes. Die verslag met aanbevelings moet binne 30 dae aan die hof besorg word.
Hannes Rust het vir Kammies opgetree.




