Verteenwoordigers en lede van verskeie nie-regeringsorganisasies het Woensdag 18 Junie geëis dat die Noord-Kaapse premier en sy regering teen September daadwerklike planne saamstel om geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV) stop te sit.

Misdaadsake wat sloer moet deeglik ondersoek word sodat die oortreders aan die pen kan ry.

Sowat 300 mense van oor die hele provinsie het in ‘n vreedsame optog onder polisiebegeleiding vanaf die Sol Plaatje-munisipaliteit se inligtingsentrum na die premier se kantoor in Kimberley gestap.

Die betrokke organisasies is Sonke Gender Justice, die Khum- en Khwe-gemeenskappe van Platfontein, Shane Griqua Advies- en Ontwikkelingsentrum, Grassroots Edge, Bathopele en die Noord-Kaapse plaaslike bestuurskomitee teen geslagsgeweld.

Optog teen geslagsgebaseerde geweld
Zolile Monakali (links), politieke adviseur van die premier, en Shane Griqua van die Shane Griqua Advies- en Ontwikkelingsentrum praat oor die optog en griefskrif wat oorhandig is. Foto: Charné Kemp

Fredalene Booysen van Sonke Gender Justice, sê hulle wil met die regering en betrokke departemente, die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) saamwerk en bied hul hulp aan.

“Dié soort geweld is ‘n geweldige krisis in ons provinsie en die land. Die onlangse misdaadstatistieke bewys dit ook. Daar word nie genoeg gedoen deur die provinsiale regering, die polisie en die NVG om oortreders suksesvol te ondersoek en vervolg nie.

Fredalene Booysen

“Die polisie se idee van sigbare polisiëring is om vyf minute lank deur ‘n straat te ry. Dit is nie effektief nie. Die vele onopgeloste moorde en verkragtings toon dit.

“Ons versoek verantwoordbaarheid. Die owerhede moet geld en hulpbronne saamsit om die probleem op te los, met die gemeenskap se hulp.

“Die hofgebou in Galeshewe is reeds twee jaar in onbruik. Ons mense is arm, hulle het nie geld om heeltyd na die hof in Kimberley te gaan nie. Geregtigheid is baie stadig vir arm mense. Ons word nie op hoogte gehou wat met sake en verhore gebeur nie. Platfontein het nie eens ‘n polisiekantoor nie.”

Sy sê met hul eerste optog in November verlede jaar in Platfontein is saaknommers aan die polisie gegee en gevra om oor die vordering van die ondersoeke ingelig te word.

Fredalene Booysen van Sonke Gender Justice en Thapelo Mookwa, direkteur Bathopele, is van die organiseerders wat die optog teen geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord gereël het. Foto: Charné Kemp Credit: Charne Kemp

“Ons wag nou nog op antwoorde. Intussen is daar vele moordenaars en verkragters wat wegkom. Ons het nog saaknommers aan die premier gegee, sake wat opgelos moet word.”

Die regering moet antwoorde teen September aan die organisasies en gemeenskap gee.

“Ons wil ons veldtog verder voer in November wanneer die veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders begin.”

Geweld teen vroue en kinders kompleks

In die griefskrif wat aan Zolile Monakali, politieke adviseur van die premier oorhandig is, sê die organisasies geweld teen vroue en kinders is ‘n komplekse een, omdat dit ‘n individuele en ‘n sosiale probleem is.

Hulle is teleurgesteld, gefrustreerd en bekommerd en eis terugvoer van hul protesoptog van 27 November.

“Ons eis ‘n meer gekoördineerde, slagoffergesentreerde en verantwoordbare benadering om GGG op te los, asook die versekering van geregtigheid en beskerming vir vroue en kinders,” lui die griefskrif.

In antwoord het Monakali gesê hy besef meer staatsdepartemente moet met die polisie en die NVG saamwerk.

“Nadat die onlangs provinsiale misdaadstatistiek vrygestel is, het die provinsiale kommissaris haar versekering aan die premier gegee dat hulle die statistieke gaan verbeter. Sy gaan meer hulpbronne beskikbaar maak en ‘n taakspan aanstel.

“Een van die probleme met sake is dat die klaers baie keer die sake teen die oortreder terugtrek. Daar is ook ‘n opeenhoping van sake in die hof, wat verhore vertraag. Ons is toegewy om die probleem op te los.”

Zolile Monakali, politieke adviseur

Hy sê hulle sal met die minister van justisie en die departement van arbeid praat oor die struktuurprobleme by die hofgebou in Galeshewe en sal versoek dat die hofgebou spoedig herstel en oopgestel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article