Tannie Bessie Kriek
Bessie Kriek (92). Foto: Verskaf

Bessie Kriek (92) van die VLV Kuruman-tak is as erelid bekroon ná 65 jaar wat sy op die bestuur gedien het.

Tydens die geleentheid in Julie was die president van VLV Sirkel Kalahari, Corlie van Zyl, teenwoordig om dié inhuldiging waar te neem.

By die geleentheid is van links Corlie van Zyl (president: VLV Sirkel Kalahari), Bessie Kriek (erelid, VLV Kuruman) en Arina Beukes (voorsitter: VLV Kuruman).
By die geleentheid is van links Corlie van Zyl (president: VLV Sirkel Kalahari), Bessie Kriek (erelid, VLV Kuruman) en Arina Beukes (voorsitter: VLV Kuruman). Foto: Verskaf

Kriek is as Elizabeth Helena Dreyer op 30 Mei 1933 in Springs gebore. Haar skoolloopbaan neem by die Laer Volkskool Heidelberg, Transvaal, ‘n aanvang en sy matrikuleer by die Hoër Volkskool Potchefstroom. Hierna bekwaam sy haar as onderwyser aan die destydse Potchefstroomse Onderwyskollege. Haar eerste onderwyserspos is by die Laerskool Schweizer-Reneke. Hier ontmoet sy vir Pieter Kriek en hulle tree op 7 Februarie 1959 in die huwelik. Twee dogters en ‘n seun is uit dié verbintenis gebore.

In Augustus 1959 open hulle ‘n apteek in Kuruman en in 1960 sluit Kriek by die VLV Kuruman-tak aan. Vir 65 jaar dien sy op die bestuur as saamroeper, sekretaris, voorsitter, skakelbeampte en argivaris.

In 1963 word sy tot die sirkelbestuur verkies. Aanstellings wat sy vervul het, sluit in dié van landbousaamroeper (1963 tot 1970); openbare sakesaamroeper (1971 tot 1978); visepresident en puntekontroleur (1974 tot 1984); welwillendheidsaamroeper (1987 tot 1984); opvoedingsaamroeper (1984 tot 1988); tuisteskepping-saamroeper (1988 tot 1990); skakelbeampte (1990 tot 2000); en argivaris (2000 tot 2013).

In 1999 ontvang sy ‘n eerbewys van VLV Sirkel Kalahari, en in 2010 tydens ‘n konferensie word sy as sterlid van die sirkel aangewys. By ‘n VLV Kaapland-kongres in 2012 ontvang sy ‘n sertifikaat vir vordering in rekenaargeletterdheid, en in 2018 ontvang Kriek ‘n eerbewys by die VLV-kongres vir die projek, Gladgebek.

Kriek vertel dat sy in haar ouerhuis geleer het dat ‘n mens nie net neem wat ‘n gemeenskap jou bied nie – jy gee ook van jou beste terug.

“Om te kon dien is net genade,” sê dié ouma van ses kleinkinders en oumagrootjie van drie agterkleinkinders. Oor die lof en eerbewyse wat sy ontvang het, bly sy by haar leuse: “If there is any honour to receive, I want to pass it untouched on to my Master”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article