Deel van Orania
‘n Uitsig oor ‘n deel van Orania. FOTO: Facebook

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het in ‘n ondersoek na die Orania-grondeis wat in 2006 afgehandel is, geen onreëlmatighede in die hantering daarvan bevind wat optrede regverdig nie.

Dit het op 13 Mei uit ‘n voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee vir grondhervorming en landelike ontwikkeling aan die lig gekom.

Die komitee het die SOE vroeër versoek om verslag te doen oor alle ondersoeke rakende grondrestitusie, wat sake dek wat voortspruit uit proklamasies van 2011 tot 2017.

Die hersieningsproses het daartoe gelei dat meer as R654 miljoen in transaksies of administratiewe besluite ongeldig verklaar is.

Volgens ‘n verklaring deur dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder vir grondhervorming en landelike ontwikkeling, was een van die eise wat klaarblyklik na die SOE vir verdere ondersoek verwys is, die 2005-eis van voormalige inwoners van Orania wat in 1991 moes trek toe die destydse departement van waterwese die grond verkoop het.

LEES OOK: Standbeeld onthul in Orania: ‘Nuwe dag breek aan vir erfenis van Paul Kruger’

Hoewel die sowat 90 eisers nooit grond in Orania besit het nie, het hulle aangevoer dat hulle verskuiwing wel aan die vereistes vir restitusie voldoen.

Die gemeenskap van Orania was nie ‘n party tot die eis nie, aangesien dit eers agterna in besit van die grond gekom het. Die eis is met finansiële vergoeding geskik en is dus afgehandel. Dit is later klaarblyklik na die SOE verwys om vas te stel of alles reëlmatig gedoen is.

Die ondersoek vorm deel van breër pogings om grondrestitusieprosesse te hersien en voldoening aan wetlike vereistes in die grondhervormingsprogram ná apartheid te verseker.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article