Ná sy reis van nege dae deur die land is die standbeeld van die eerstydse president van die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR), Paul Kruger, op sy voetstuk in Orania in die Noord-Kaap staangemaak. Hier troon hy tien meter bo die dorpsplein uit.
Dié Kruger-standbeeld van brons is ’n ewebeeld van die een op Kerkplein in Pretoria en weeg 1,5 ton. Dit is amptelik op Vrydag 10 Oktober in Orania onthul – op die 200ste herdenking van Kruger se geboortedag. Meer as 2 000 mense het die feestelikheid bygewoon waartydens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), die beeld simbolies aan die Orania-gemeenskap oorhandig het. In ‘n verklaring van die FAK word Kruger beskryf as “die persoon wat die Afrikaner se strewe na vryheid waarskynlik die kragtigste vergestalt”.



Sedert die vertrek van die standbeeld op Erfenisdag, 24 September, vanaf die Voortrekkermonument in Pretoria, het die konvooi wat die beeld vervoer by Kerkplein aangedoen, asook Boekenhoutfontein, Rustenburg, Potchefstroom, Krugersdorp, Heidelberg, Vereeniging, Udolpho, Heilbron, Vegkop, Bloemfontein, Paardeberg en Kimberley.
Weens die beeld se hoogte is dit plat op ‘n vragmotorbak vervoer, maar by elke besoekpunt is dit regop met die hulp van ‘n hyskraan gelig.
Dit het op 2 Oktober in Orania aangekom en meer as ‘n duisend inwoners, in oranje en wit geklee en met Orania-vlae in die hand, het die beeld ingewag.
“Die fantastiese opkoms het gewys hoe sterk die simboliese waarde van Paul Kruger steeds is, nie net as ’n figuur uit die verlede nie, maar as ’n simbool van standvastigheid, identiteit en kulturele selfbeskikking,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme van die Kultuurtuiste.




‘Bewuste strewe na bou en bewaring van eie kultuur, erfenis’
Volgens die FAK is die oprigting van dié Kruger-standbeeld, asook die voetstuk, deur Afrikaners van oor die hele Suid-Afrika moontlik gemaak. Simboliese stene is verkoop om die koste te delg. Elkeen wat ’n simboliese steen gekoop het, se naam word op die monumentvoetstuk verewig.
“Vir die Orania Beweging is die trek van die Kruger-standbeeld na Orania simbolies baie belangrik, eerstens vir die feit dat oom Paul weer tussen sy mense staan en tweedens dat Orania-ondersteuners en medewerkers dit moontlik gemaak het om die monument op te rig. Die projek is vanuit die mense, die volk en almal wat bygedra het,” sê Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging.
Die FAK sê voorts dat in Orania ’n bewuste strewe na die bou en bewaring van eie kultuur en erfenis is. Kruger, wie se lewe en werk rondom vryheid, selfstandigheid en lojaliteit aan sy volk gesentreer was, pas by uitstek binne hierdie ruimte.
‘Meer as geskiedkundige gebeurtenis’
“Die aankoms van die standbeeld in Orania is meer as net ’n geskiedkundige gebeurtenis,” sê Brand. “Waar die geskiedenis dikwels verdraai of vergete word, word hier ’n daad verrig wat onbeskaamd sê: ‘Ons is steeds hier. Ons onthou steeds. Ons bou steeds’.”

Die oprig van die beeld in Orania is in reaksie met die neiging waarin vele standbeelde wat eie aan die Afrikaner se identiteit en erfenis is, oor die land heen afgebreek of beskadig word, of in pakhuise verdwyn.
LEES OOK: Steve sing en oom Paul kuier saam op kultuurmakietie by Voortrekkermonument
“Kruger het die republikeinse ideaal van vryheid en selfbestuur beliggaam. Sy standbeeld in Orania herinner elke besoeker daaraan dat hierdie ideale nie in die geskiedenisboeke begrawe is nie, maar vandag steeds toepaslik is vir Afrikaners wat hul kultuur, taal en geloof wil bewaar,” sê hy.
“Soos die son oor die Oranjerivier opgekom het, het ’n nuwe dag vir die erfenis van Paul Kruger aangebreek,” sê Brand.
‘Verjaarsdaggeskenk vir Oom Paul’
AfriForum het die 200ste herdenking van Kruger se geboorte op 10 Oktober 1825 herdenk met ’n spesiale “verjaarsdaggeskenk”: die verbetering van die beveiliging van die Kruger-monument op Kerkplein in die Pretoriase middestad.
Dit volg nadat vandale weer in September van die standbeelde wat deel van die monument uitmaak, ernstig beskadig het. ’n Geweerloop en ’n skoen van twee van die Boerekrygerbeelde aan die voet van die Kruger-standbeeld is afgebreek. Omdat die veiligheidsheining rondom die monument ook beskadig is, was AfriForum bekommerd oor die onmiddellike veiligheid daarvan.
Na afloop van produktiewe gesprekke met verteenwoordigers van die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit is ooreengekom dat AfriForum die omheining kan herstel en versterk.

AfriForum beklemtoon dat dit noodsaaklik is dat gemeenskappe self verantwoordelikheid vir die beskerming van hul erfenisbakens moet aanvaar.
“Kruger is ’n simbool van die stryd teen Britse imperialisme en ’n voorbeeld van samewerking tussen Afrikaners en ander gemeenskappe. Hy het ’n sleutelrol in die geskiedenis van die land gespeel wat mense steeds inspireer en besiel. Dit is gepas om op sy geboortedag ook hierdie aksie te onderneem om die monument te beveilig en terselfdertyd huidige geslagte hiervan bewus te maak,” meen Alana Bailey, hoof: Kultuursake, AfriForum.
Bailey sê gesprekke tussen belanghebbendes oor die restourasie en toekomstige bewaring van die monument en beelde op Kerkplein duur nog voort.
“Ons besef hierdie aksie bied geen permanente oplossing nie, maar dit is noodsaaklik dat die monument so goed as moontlik beskerm word totdat meer volhoubare oplossings gevind word,” sê Bailey.
Op 10 Oktober het AfriForum ook ’n kranslegging by Kruger se graf in die Heldeakker in Pretoria gedoen, en aksies in Mpumalanga ter behoud van die Krugerwildtuin se naam geloods.







You must be logged in to post a comment.