Deon van der Berg
Deon van der Berg

‘n Gewyde atmosfeer het vanoggend (19 Mei) in die gange van die Mediclinic Bloemfontein geheers terwyl personeel sag Amazing Grace gesing het, toe die 28-jarige Deon van der Berg na die teater gestoot is.

LEES OOK: Nuwe hoop vir Bloemfonteiner (25) danksy jong ingenieur se nier

Deon, ‘n oudleerling van die Hoërskool Sand du Plessis wat Saterdag omstreeks 05:00 in ‘n motorongeluk op die skerp draai in Dan Pienaarrylaan dood is, se organe word vandag na skenkers in verskillende hospitale oor die land heen gestuur.

Sy pa, Danie, sê hy en Doen het nog Vrydag met mekaar gepraat. Deon is ‘n gekwalifiseerde chemiese ingenieur en sou hom binnekort by sy boetie, Leon, in Kiel in die noorde van Duitsland, aansluit. Deon was van plan om in Duitsland werk te soek.

Deon van der Berg se ouers Danie en Susan van den Berg, neem afskeid van hul seun voordat hy ingaan teater toe waar sy organe verwyder gaan word sodat dit aan talle pasiënte geskenk kan word.
Deon van der Berg se ouers Danie en Susan van der Berg, neem afskeid van hul seun voordat hy ingaan teater toe waar sy organe verwyder gaan word sodat dit aan talle pasiënte geskenk kan word. FOTO: Verskaf

“Deon het my gebel en gevra of ek hom sal kan help met huurgeld terwyl hy in Duitsland is totdat hy werk kry. Dit was die laaste keer dat ons gepraat het,” sê Danie.

Hy sê hulle het Saterdag in die vroeë oggendure ‘n oproep gekry oor die motorongeluk. Deon is na die Mediclic Bloemfontein geneem waar hy breindood verklaar is.

“Toe hulle later daardie oggend met ons praat oor orgaanskenking, wou ons niks weet nie,” sê Danie. “Dit voel dan nog of hy gaan wakker word. Maar ons het besef dat Deon dit so sou wou gehad het.”

Danie sê sy seun wou altyd mense help. “Hy was die een wat die tannie oor die straat sou help.”

Hy sê ‘n kennis van hom en sy vrou, Susan, het hulle Maandagaand gebel om te sê dat iemand wat sy ken een van Deon se niere gaan ontvang. Albei sy niere word oorgeplant op mense in Bloemfontein wat dit nou baie nodig het.

Die ouers van Deon van der Berg wat Saterdag in ‘n motorongeluk in Bloemfontein dood is, groet ‘n laaste keer terwyl hy na die teater gestoot word.

Suster Gretha Botha, die adjunk-teaterverpleegbestuurder, sê daar is gister reeds hard gewerk om alles gereed te kry vir die organe wat vandag in die teater verwyder sou word en na ontvangers gestuur word. “Ons moes gisteraand sowat 50kg soutoplossing vries wat in koelhouers verdeel word waarop die organe vervoer kan word.”

Sy sê die meeste van die organe moet binne 3 tot 4 ure vandat dit verwyder word, oorgeplant word. Daarom moet alles gereed wees wanneer die proses begin. Die ambulanspersoneel van ER24 het gereed gestaan om die organe wat na Johannesburg vervoer moes word, na die lughawe te neem.

Valencia Swarts, woordvoerder vir Mediclinic, sê dit is ‘n baie goed gekoördineerde proses. “Soveel mense ontvang lewensbelangrike organe danksy Deon.”

Sy sê wanneer iemand ‘n goeie kandidaat vir orgaanskenking is, word daar met die familie gepraat. Sy sê dit is die derde keer in twee jaar dat pasiënte wat hier dood is, volledige orgaanskenkers geword het.

Leon en sy familie het Dinsdag uit Duitsland in Suid-Afrika aangekom. ‘n Diens om Deon se lewe te vier sal waarskynlik Saterdag plaasvind, maar finale reëlings is nog nie getref nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article