Die tweestryd tussen die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley en die Noord-Kaapse Provinsiale Regering het ‘n nuwe hoogte bereik nadat Thapelo Matlala, stadsbestuurder, in ‘n beëdigde verklaring aangevoer het die provinsiale regering se pogings om die munisipaliteit onder administrasie te plaas “onwettig, irrasioneel en ‘n misbruik van die hofproses” is.

Die geskil spruit uit Bentley Vass, LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta), se hooggeregshofaansoek om ’n raadsvergadering van 17 April en die besluite wat daarop geneem, ongeldig te verklaar. Dit nadat Vass ingevolge Artikel 139-ingryping die munisipaliteit onder administrasie geplaas het.

LEES OOK: Provincial oversight turns to litigation: Coghsta takes Sol Plaatje to high court

Matlala voer aan die LUR het sy magte oorskry, omdat slegs die provinsiale uitvoerende raad as ‘n geheel, en nie die LUR alleen nie, gemagtig is om so ‘n voorskrif uit te reik.

‘Geen feitlike, wetlike gronde vir ingryping’

Volgens die munisipaliteit is daar geen feitlike of wetlike gronde vir die ingryping nie. Matlala ontken die munisipaliteit het versuim om sy uitvoerende verpligtinge na te kom. Hy meen die munisipaliteit het reeds op 17 April ‘n spesiale raadsvergadering gehou waar die konsepbegroting suksesvol ter tafel gelê is.

Hoewel die LUR die wettigheid van hierdie vergadering bevraagteken, voer Matlala aan die Hooggeregshof het reeds ‘n vroeëre interdik om die vergadering te stop, van die hand gewys. “Die munisipaliteit is nie in ‘n krisis waar hy nie sy verpligtinge kan nakom nie,” voer hy in die verklaring aan.

Die munisipaliteit het ‘n teen-aansoek ingedien om die LUR se voorskrif en die daaropvolgende ingryping ter syde te stel. Matlala voer aan dat die provinsiale regering probeer om die munisipaliteit se grondwetlike outonomie te ondermyn.

LEES OOK: Sol Plaatje-munisipaliteit amptelik onder administrasie; nog ‘n regstryd wag

Verder word beweer die proses om die munisipaliteit onder administrasie te plaas, was reeds vooraf bepaal. Die provinsiale uitvoerende raad het glo reeds op 21 April besluit om in te gryp, nog voordat die munisipaliteit ‘n redelike geleentheid gegun is om hul kant van die saak te stel.

Die munisipaliteit bevraagteken ook die provinsiale regering se plan om ‘n finansiële herstelplan af te dwing. Matlala voer aan daar is geen finansiële krisis wat so ‘n drastiese stap regverdig nie. Die munisipaliteit is reeds besig om infrastruktuuruitdagings met grootskaalse projekte op te los.

Die munisipaliteit versoek dat die LUR se aansoek met koste van die rol geskrap word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article