Ek wag by die ontvangsruimte van ‘n besigheid. Dit is bedrywig. Die klokkie by die hek lui. “Kyk eers wie dit is voordat jy net oopmaak,” roep die eienaar streng.

Stilte.

“Dit is iemand met ‘n bles,” sê een van die werknemers.

“Dan kan jy oopmaak,” sê die werkgewer met ‘n glimlag. “Ek het nog nooit ‘n omie met ‘n bles teëgekom wat nie vriendelik en hulpvaardig is nie.”

Die hekkie klik oop en die man maak seker dat hy dit agter hom toemaak. Dan stap hy die besigheid binne en gee ‘n pakkie af. Hy groet vriendelik voordat hy omdraai en uitstap.

Ek herkou ‘n oomblik hieraan. Dit is inderdaad waar. Wanneer ek dink aan diegene waarmee ek gereeld kontak het wat bles is, is dit só: manne wat vriendelik en hulpvaardig is.

Daarmee sê ek nie dat die manne wat met baie hare geseën is, onbeskof is nie. Daar is selfs bleskoppe wat onbeskof is. Maar oor die algemeen is ‘n bleskop-omie iemand wat jy kan vertrou.

“Stem jy saam met my?” vra die eienaar. Ek aanvaar sy kon sien hoe ingedagte ek is.

“Beslis,” sê ek.

Die meeste manne in my lewe is almal bles. En almal dierbaar. My pa was skaars ná skool al bles.

Selfs wanneer ek dink aan mense van ander lande wat my pad gekruis het wat bles was – hulle was ook vriendelik en hulpvaardig.

Dit is vanselfsprekend dat dit slegs uit eie ondervinding is, en mense mag van ons verskil. Moet dalk van ons verskil.

Uiteindelik is dit grotendeels gene wat sorg dat mans op ‘n latere ouderdom hare het, al dan nie. Dit is nie asof dit hulle keuse is nie.

“Ek voel ook so,” skerts die eienaar. Ek sê altyd: “Hulle is bles en ‘blessed’. “

  • Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article