Die herrie oor die DA se bewering dat die Dawid Kruiper-munisipaliteit in Upington onwettig skuld van byna R6 miljoen aan huurgeld vir Die Eiland-vakansieoord afgeskryf het, het ’n nuwe kinkel aangeneem weens teenstrydige verklarings van die munisipaliteit en die huurder, Khethiwe Group.
Henk Opperman, DA-hoofsweep, voer aan Khethiwe Holdings het in Oktober 2023 skynbaar suksesvol aansoek gedoen vir kwytskelding van meer as R2,8 miljoen se skuld. Volgens Opperman is dit gegrond op infrastruktuurverbeterings wat die maatskappy by die oord aangebring het.
Hy beskryf dit egter as onreëlmatig omdat die huurkontrak juis bepaal dat die direkteur, Jacques Henning, die verbeteringe op eie koste moet aanbring.
“Die Raad het destyds korrek besluit om die aansoek na die tender-beoordelingskomitee vir ondersoek en aanbeveling te verwys, met ’n duidelike opdrag dat die finale besluit na die Raad moet terugkeer vir goedkeuring. Dit blyk die tender-beoordelingskomitee het onafhanklik besluit om die skuldafskrywing goed te keur, sonder die vereiste gesag of finale Raadsgoedkeuring.
“Dis ’n ernstige prosedurele skending, onreëlmatig en onwettig want dis in direkte stryd met gevestigde munisipale bestuursprosesse.
“Dit ondermyn aanspreeklikheid, verswak toesig en skep ’n gevaarlike presedent vir hoe openbare fondse en munisipale bates bestuur word.”
– Henk Opperman
Opperman beweer die totale skuld het tot byna R6 miljoen opgehoop. Hy eis dr. Elias Ntoba, munisipale bestuurder, moet ’n dringende forensiese ondersoek gelas.
Opperman gaan ook klagtes by die Ouditeur-Generaal en die Openbare Beskermer indien.
Bewerings weerspreek
Patrick Williams, munisipale woordvoerder, weerspreek die bewerings van die DA en die Khethiwe Group.
Terwyl Khethiwe aanvoer daar is ’n ooreengekome vermindering van skuld, ontken die munisipaliteit dat enige skuld amptelik afgeskryf is.
Williams voer aan die munisipaliteit beskou die volle bedrag van R5 797 738,59 (vir huur en dienste) as steeds invorderbaar.
Hy sê die Raad het kennis geneem van Khethiwe se besluit om die kontrak eensydig te beëindig, maar het opdrag gegee dat die regsproses vir skuldinvordering voortgesit word. Williams sê die maandelikse huur beloop R59 633,30 wat oor die 40-maande kontrakperiode op sowat R2,38 miljoen neerkom.
“Ons doen reeds stappe om die uitstaande skuld in te vorder in lyn met die amptelike beleid.”
‘Wetlik geregtig op kwytskelding’
Daarteenoor beweer Henning, via sy prokureur Coenie Willemse, hulle is wetlik geregtig op ’n kwytskelding wat “deur die munisipaliteit goedgekeur en kontraktueel vasgelê is”.
Khethiwe ontken hulle skuld R5,9 miljoen en voer aan die munisipaliteit het versuim om hul rekening reg te stel. Die maatskappy beweer hulle het die kontrak beëindig juis weens dié versuim en omdat die munisipaliteit nie op regsskrywes gereageer het nie.
Volgens Khethiwe Group was hulle te alle tye finansieel in staat om hul verpligtinge na te kom. Hulle hou vol die beëindiging van die kontrak is regsgeldig weens die munisipaliteit se administratiewe en kontraktuele versuim.
Hoewel die saak as sub-judice beskou word, wou die maatskappy “onakkurate” stellings op sosiale media regstel.
Die geskil vind plaas teen die agtergrond van Die Eiland se agteruitgang. Teen 2022 was die eens gewilde toeristebestemming verlate en gevandaliseer.
Destyds was daar ook ʼn twis oor die toekenning “van die 15-jaar huurkontrak” aan Khethiwe Group. Die aksiegroep Red Upington het destyds ’n petisie met meer as 1 200 handtekeninge opgestel en beweer die publiek is nie in die proses geken nie.
Williams ontken dat die toekenning onreëlmatig was en sê die besluit is deur die volle Raad geneem op grond van ’n voorgelegde besigheidsplan.
Opperman bly egter ontevrede veral omdat sy dringende mosie en vrae oor die skuld ʼn week gelede in die raadsvergadering as “nie-dringend” deur die ANC-beheerde raad afgestem is.
Hy sê die geld wat afgeskryf is, “is eintlik aan die inwoners van Upington verskuldig”.
LEES OOK: Die Eiland in Upington se huurkontrak onder verdenking




