Franklin Peter Orange (56), veral bekend as veelsydige krieketspeler en -afrigter van Upington en omstreke, is Woensdag 29 April oorlede nadat hy gesukkel het om asem te haal.
Volgens sy suster, Eloise Brand (50), het hulle hom inderhaas na die Harry Surtie-hospitaal in Upington gebring en kort nadat hy opgeneem is, is hy reeds deur hospitaalpersoneel as dood verklaar.
“Ons as familie van Franklin berus in wat gebeur het. Dit was God se wil gewees om ons broer uit ons midde weg te neem”, sê Llewellyn (53), jonger broer van Franklin. “Ek sal hom baie mis. Hy was my broer vir wie ek altyd lief was”, sê Llewellyn.
“Franklin was saggeaard en hy kon so mooi en rustig met mense gesels,” sê Eloise. “Sport en veral krieket was sy groot liefde.” Franklin het diep spore as ‘n briljante veelsydige krieketspeler getrap, en was ‘n vaardige krieketafrigter by verskeie skole in Upington en omgewing. Sy geesdrif en liefde vir die spel het boekdele gespreek.
Hy was die eerste kleinkind van wyle oom Lukas en ant Miena Orange van Upington. Franklin het op 1 Mei 2013 in die huwelik getree met Nadine September. Sy is op 15 Julie 2023 ná ‘n kort siekte oorlede.
Franklin het voorheen vir ‘n geruime tyd vir die verkeersafdeling van die plaaslike munisipaliteit gewerk.
Hy word oorleef deur sy suster, broer en ‘n breë familie-en vriendekring. Hy was die oudste van drie kinders van wyle Frank en Katriena Orange.
Op hierdie stadium is geen begrafnisreëlings bekend gemaak nie.
LEES OOK: Beminde wiskunde-onderwyser en saksofoonspeler van Upington oorlede





