Maandag het talle van ons waarskynlik probeer onthou waar ons was op 27 April 1994, die dag van die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika.

Diegene wat wel hul kruisies getrek het – en wie 32 jaar gelede oud genoeg was om dit te doen – sal die rye en rye mense by stemlokale onthou. Op daardie dag het nagenoeg 20 miljoen Suid-Afrikaners gestem, met die stemopkoms 86,9% (teenoor die stemopkoms van nagenoeg 59% in 2024).

Miskien sal die verdoemingsprofesieë van 1994 onthou word, en die opgaar van blikkieskos, water, kerse en wie weet wat nog ter voorbereiding van ‘n voorspelde tydperk van chaos of beleg.

Die son het egter oor dié dag gesak, en weer opgekom – ‘n gebeurtenis wat homself 32 jaar later steeds herhaal en na alle waarskynlikheid nog vir milleniums gaan voortduur.

Besef ‘n mens dat dié eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika 32 jaar gelede plaasgevind het, wil jy jou hande saamslaan.

Waar is die tyd heen? Wat het die afgelope 32 jaar in my eie lewe gebeur en hoeveel het nie intussen verander nie? Het daar werklik 32 herfste, winters, lentes en somers aangebreek en verbygegaan? Hoe lank is 32 jaar nie! Lank genoeg om ‘n kind groot te maak, deur ‘n skoolloopbaan te draf, en ‘n klompie jare van dié kind se grootmensjare te beleef.

Dink jy terug weet jy in baie gevalle dat die toekoms nie is soos wat jy toe – in 1994 – gedink het dit sou wees nie. En dit het allermins slegs met politiek te doen.

Tyd op sy eie bring verandering, nie net aan jou hele menswees en denke nie, maar aan mense om jou en na aan jou. Met onverbiddelike trant skaaf en wysig tyd aan moontlikhede, omstandighede en toekomsverwagtings.

Só het die magtige Britse, Mongoolse en Romeinse Ryk, en talle ander, met die verloop van tyd geval. Lees ‘n mens oor waarom dié wêreldryke tot ‘n val gekom het, is die redes niks nuut onder die son nie: konflik oor opvolgers, fragmentering van gesag, ekonomiese krisis, militêre oorbesteding, politieke onstabiliteit, en onbevoegdheid, om enkele oorsake te noem.

Die digter Robert Frost het geskryf: “In three words I can sum up everything I’ve learned about life: it goes on.”

So sal ons talle belewenisse van die afgelope 32 jaar nie kan herroep nie, of dalk tye onthou waarin té veel verknies, té veel tyd gemors is.

Koester die tyd, voor nóg 32 jaar in ‘n oogwink verby is, en neem ter harte wat die motiveringspreker Wayne Dyer geskryf het: “Go for it now. The future is promised to no one.”

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article