Douglas Mthukwane (45), voormalige vryskutjoernalis en Noord-Kaapse woordvoerder vir die departement van onderwys, is op Vrydag 10 April gevangenisstraf van 25 jaar vir die eerste aanklag teen hom opgelê, en 15 jaar elk op die ander aanklagte van verkragting. Dit word samelopend uitgedien.
Die vorige dag het sy regsverteenwoordiger, adv. Kenneth Kgatwe, in die hooggeregshof in Kimberley ter strafversagting aangevoer Mthukwane is “nie normaal nie”, maar kan ná ‘n lang tydperk van gevangenisstraf genoeg terapie ondergaan het om dan vrygelaat te word sonder om ‘n gevaar vir die samelewing te wees.
Mthukwane is in Januarie daaraan skuldig bevind dat hy ’n 14-jarige meisie van Greenpoint wat hy skool toe sou vat, op 30 Mei 2016 eers na sy woonstel in Beaconsfield geneem, gedreig en verkrag het. ln nog ‘n voorval het hy op 20 Augustus 2017 ‘n vrou langs die pad in Greenpoint voorgekeer en aanwysings gevra. Sy het ingestem om saam in sy motor te ry. Hy het haar na ‘n veld geneem, gedreig en verkrag.
Op 15 Mei 2019 is hy en ‘n vriendin na sy woonstel waar hy haar met haar getuigskrifte sou help, maar haar gedreig en twee keer verkrag het.
LEES OOK: Vermeende verkragter binnekort vir waarneming opgeneem
Waarnemende regter Sharon Erasmus het vroeër in haar uitspraak bevind dat sy verweer oor die voorvalle merkwaardig ooreenstem. Ook, in al die gevalle het hy die vroue met die besit van ‘n vuurwapen gedreig – een van hulle het dit gesien – en het hy in woedebuie verval as hulle nie doen wat hy sê nie. In sy getuienis is almal as vuil en onhigiënies beskryf. Ná die voorvalle het hy opgetree asof niks onvanpas gebeur het nie.
Toe hy in hegtenis geneem is, het hy ontken dat hy gemeenskap met die drie slagoffers gehad het. Nadat DNS-getuienis die teendeel bewys het, het hy skielik aangevoer die vroue wou met hom seks gehad het.
‘Buitengewone omstandighede’ aangevoer
Kgatwe het namens Mthukwane in betoë aangevoer wesenlike en buitengewone omstandighede bestaan vir die regter om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf.
Mthukwane kan nie help dat hy met sekere sielkundige toestande gediagnoseer is nie.
Hy is as kind emosioneel en fisiek deur sy pa mishandel en het geen terapie daarvoor ontvang nie. Hy kan nie sy woedebuie beheer nie.
“Hy is psigies siek, maar kan verskeie programme in die gevangenis deurloop om homself te verbeter en sekere toestande te oorkom. Sy vooruitsigte is meer positief omdat daar geen alkohol in die gevangenis is wat die uitwerking van sy medikasie benadeel nie.
“Hy het reeds sy lewe in die gevangenis omgedraai en lewer selfs preke aan medegevangenes. Voorheen was Mthukwane ‘n gesofistikeerde man en steunpilaar in die gemeenskap wat self kwesbare groepe ondersteun het.”
Mthukwane het homself vrywillig laat waarneem, en het die hofsittings getrou bygewoon. Daar is vooruitsigte dat hy sal rehabiliteer en weer vrygelaat kan word.
In 2003 is hy so erg aangerand, het sy ma getuig, dat hy nooit weer daarna dieselfde mens was nie. Hy sou geheueprobleme ondervind en onbeheersde gedrag toon. Boonop ly hy aan mediese toestande wat chronies medikasie vereis, het Kgatwe aangevoer.
‘Toon geen berou oor dade’
Adv. Adele van Heerden, aanklaer, het aangedring dat Mthukwane nie uit sy vorige veroordeling vir poging tot verkragting lesse geleer het nie.
“Die kanse dat hy nie ‘n bedreiging vir die samelewing kan inhou nie, is skraal,” het sy in betoë aangevoer.
Hy het sy slagoffers verneder en hul privaatheid op brutale wyse verwoes en hulle met geweld gedreig as hulle nie tot die dade ingestem het nie. Volgens haar het Mthukwane sy kwesbare slagoffers, waarvan een ‘n minderjarige skoolmeisie, se vertoue eers gewen en hulle op slinkse wyse mislei, en die dade haarfyn beplan.
LEES OOK: Vermeende verkragter toon ‘diepgaande grootheidswaan en spoggerigheid’
Die slagoffers was jare ná die dade in hul getuienis nog getraumatiseer, terwyl hy aangevoer het hulle jok en het die seksdade inisieer, en huil nou krokodiltrane.
Volgens die staat kon die verkragter geen wesenlike en dwingende omstandighede toon dat hy nie ‘n lewenslange vonnis opgelê moet word nie. Hy toon geen berou oor die dade wat oor jare heen gepleeg is nie, en had geen empatie met sy slagoffers nie.
Vroue en kinders in die gemeenskap moet teen hom beskerm word en die verswarende omstandighede weeg meer as die versagtende omstandighede. Juis te meer vanweë sy sielkundige diagnose.
“Hy kan nie bloot sy ontwrigtende gedrag ontgroei nie,” het Van Heerden aangevoer.
- Regter Erasmus het Vrydag 10 April haar vonnisoplegging gelewer. Mthukwane is gevangenisstraf van 25 jaar vir die eerste aanklag opgelê, en 15 jaar elk op die ander aanklagte van verkragting. Die vonnisse word samelopend uitgedien.





