“When a bird gets free, it does not go back for remnants left on the bottom of the cage.” – Rumi
Weke, dalk maande, nadat mnr. Budgie Blou homself in ‘n vooraanstaande woonbuurt in die stad tuisgemaak het, is hy nou ingeburger.
Byna vergete is sy koue staalkou, die vuil houtstok waarop hy moes sit, die vuil kos- en waterbak.
Die aaklige reuk van mensekos, moeggekookte skaapvleis en papgekookte groente. En hul raserige musiek.
Hy wou eintlik graag sy longe uitsing, maar is nooit ‘n geleentheid gegee nie.
En daai ou mensgevrete wat vir hom kyk en allerhande klankies gemaak het. Asof hy ‘n kind of kuiken was.
Hy bly nou in ‘n doringboom, tussen ander voëlspesies. Eers moes hy hul taal leer praat.
LEES OOK: Hok nie altyd huis nie, selfs al is jy ‘n blou budgie
Mossies, vinke, lysters, duiwe, nogal drie soorte, tiptolle, houtkappers, hoep-hoep en ‘n speg ook nog. Elkeen brabbel in sy eie taal, maar saam praat hulle ‘n soort fanakalo wat saambly baie makliker maak.
Hy kan net nie die haatlike hadedas se geskrou verdra nie. Nogal erg op sy oortjies.
Hy sien die Jack Russel wie se hare sy nes sag maak, knor as die gevoëltes oor die werf vlieg.
By die ander voëls moes hy leer hoe om ‘n nes te maak uit takkies, grassies en hondehare te gebruik as sagte beddegoed. Aanpas was nie maklik nie.
Hy moes sy pap voëlhokspiere omtrent rek en strek. Soggens en saans oefen om fiks te word en die hele buurt vol te vlieg op soek na nesmateriaal.
Gelukkig vir die mense op die werf, wat daagliks saad en meelwurms en vrugte ook vir die voëls uitsit. ‘n Lekker voëlbad ook, waar hy graag stof afwas, as daai lyster nie daarin gebollie het nie.
Noudat hy gemaklik en tuis voel, dink hy hy is reg vir sy volgende uitdaging.




