‘n Kliënt skakel my onlangs oor ‘n boodskap wat hy van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gekry het. Hy is bekommerd, wat te verstane is. Volgens my is sy belastingprofiel op datum.
Ek loer deur sy inligting en skakel hom terug. Ek stel hom gerus.
Ná ‘n rukkie kry ek weer ‘n oproep.
“Dit is dalk my seun se belastingnommer,” sê hy.
Ek belowe om later daaraan aandag te gee en skakel hom weer. Dit is afgehandel. Ná ‘n rukkie skakel hy my weer.
“Met die algemene geneigdheid van mense om te skinder, moet ons nou ophou om mekaar te bel,” sê hy.
Ek lag. Daar steek meer as een waarheid in hierdie sin.
Mense skinder graag. Mense skinder maklik. Waar daar ‘n rokie is, is daar dalk wel ‘n vuurtjie. Dit beteken egter nie dat die hele wêreld aan die brand is en jy weet presies wat dit veroorsaak het nie.
Iets wat eintlik nie eens genoem moes word nie, word later ‘n onderwerp van bespreking.
Die ander waarheid is dat ‘n goeie humorsin ‘n mens ver in die lewe bring. Om die ligter kant van ‘n ernstige saak te sien kan senuwees en humeure in toom hou.
Die inwoners van ons land staan bekend vir hul unieke humorsin.
Ons sien die snaaks in iets wat glad nie snaaks is nie. En ons kan daarop voortborduur. Die grappies en staaltjies raak al hoe meer kleurryk – totdat dit aan roekeloos grens.
Dit is dalk ter wille van oorlewing. Ons land is al, om verskeie redes, deur geweldige swaarkry. Inwoners probeer die beste van slegte sake maak.
Uit hierdie een sin van my kliënt het ek weer besef dat daar dinge is waarmee ‘n mens moet tred hou.
Onthou dat mense graag bakhand, maar ook luidkeels, skinder. Onthou ook om, sover moontlik, jou unieke humorsin te behou.



