KAMEELDORING | Vermanings herhaal hulself oor geslagte heen

an elderly woman and a child looking at a bunch of flowers
Soms weerklink vermanings oor geslagte heen. FOTO: cottonbro studio / pexels.com

Ouma Lappies lag altyd skelm wanneer Rooyma haar ma se woorde dekades later aan die Rooymiere eggo.

Dalk is sy net so dankbaar haar gesproke woorde het tog iewers neerslag gekry.

Nog groter is Ouma Lappies se tevredenheid en behae wanneer ‘n kleinkind dié oorgeërfde wyshede uiter.

So sal Jongste haar ma waarsku “moenie dit aframmel nie” wanneer sy spaghetti met tamatiesous meng.

Of Oudste sal trots Rooypa aan die huisreël, as jy dit oopmaak, maak dit toe, herinner (tot Rooyma se toonkrullekkerte).

Soms word geykte sêgoed verdraai óf holderstebolder gebruik.

Rooyma sal Sussie herinner om nie te skree of in die huis te hardloop nie. Al hardlopende sal sy dan om verskoning vra.

Jongste wat nie op haar mond geval is nie en ‘n streep van beterweterigheid van moederskant het, help graag mense egter “reg”.

Haar broer, wat al hoe meer met Afrikaans gemaklik raak en idiome leer, seg eendag trots dit reën katte en honde.

“No, it rains raindrops,” tjip sy in.

Aan tafel kondig die eens doodhonger tienjarige aan hy is ná sy tweede maal versadig.

Sy ma-juffrou probeer Afrikaans in praktyk aanwend en vra wat die intensiewevorm van vol is.

Jongste spring Ouboet voor en antwoord met selfvertroue “vet” – waarskynlik na aanleiding van haar ma se onoordinkte uitlatings.

Maar soms laat die kinders se oorgeërfde sêgoed Rooyma stywe-lip wanneer sy aan die ontvangkant daarvan staan, totdat sy besef die Rooyes het tog haar gesanik gehoor.

Oudste herhaal “elke ding het ‘n plek” wanneer Rooyma alweer haar foon versit het, en Sussie sal nogal met haar arm op die heup sê “die son trek water,” wanneer haar Ma draal.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article