Duineveld-krieketspan skitter in ZFM-liga se eindstryd in Upington

Noel "Kuifie" Jansen (links) en Hein Stach. Jansen (4/19) is aangewys as die beste bouler in vanjaar se ZFM-liga en Stach (54 lopies van 51 balle) is die speler van die wedstryd.
Noel “Kuifie” Jansen (links, met 4/19) is die beste bouler in vanjaar se ZFM-liga en Hein Stach (54 lopies van 51 balle) die speler van die wedstryd. FOTO: Nick Pretorius

Duineveld se “Kuifie” Jansen (4/19) en Hein Stach (54 lopies, 51 balle) was Saterdag 29 November dié span se groot uitblinkers in hul sege oor Upington Lions op die Primêre Skool Op die Voorpos se krieketveld in Upington.

Stach se flitsende kolf en ‘n ewe skitterende boulontleding van 4/19 en 28 lopies van 32 balle deur Jansen het die deurslag in die ZFM-eindstryd gegee waar Duineveld die span van Lions deurgaans onder kwaai druk geplaas het.

Die krieketspan van Duineveld het Saterdag 29 November op ‘n snikhete warm dag die 40-boulbeurt ZFM-eindstryd op die Primêre Skool Op die Voorpos-krieketveld teen Upington Lions met 107 lopies gewen. Duineveld-kaptein Cobus van Niekerk lig die liga-trofee terwyl die span juig. FOTO: Nick Pretorius

Jansen se goëlballe van ‘n goeie lyn en lengte was eens te veel vir Lions. Stach aan die ander kant, het die boulers van Lions met mening bygekom en dit was ‘n lus om hom op sy beste te sien.

Errol Thopps, Lions se snelbouler (4/29) en Darren Coetzee (3/24) het met goeie vertonings beïndruk en dié twee het Duineveld se kolwers goed in toom gehou met swaai en kortballe wat op ‘n goeie kolfblad hulp verleen het aan die bouler. Franco Swart (3/37) het ook met verskeidenheid variasies die kolwers goed vasgepen.

LEES OOK: Early wickets cost South Africa dearly in first ODI

Duineveld het vroeg in die oggend eerste gekolf en is vir 185 lopies almal uitgeboul.

Tydens die middagskof het die kolfblad meer wip en swaai aan Duineveld se boulers verleen en Jansen met sy draaiballe het die blad uitstekend tot sy voordeel benut. Lions se kolwers het met reëlmaat hul paaltjies soms met roekelose houe “weggesmyt” en teen die einde van hul treurmare was die span teen die planke.

Lions kon net met 78 lopies antwoord waarvan Swart se 28 lopies van 41 balle die beste gevaar het.

Duineveld was op dié dag se spel die beter span en hulle het die oorwinning met 107 lopies verdien.

Vroeg in Januarie begin die T20 ZFM-liga.

LEES OOK: Sterkste man behou wêreldtitel tydens kompetisie op eie bodem

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article