POTPOURRI | ‘Wonderwerk’ verrig met eet van Noord-Kaapse toebroodjie

aerial view of the big hole in kimberley south africa
Die Groot Gat van Kimberley, ‘n bekende Noord-Kaapse landmerk. FOTO: Agnieszka Taggart / pexels.com

Ek het al dikwels oor die inwoners van die Noord-Kaap geskryf. Gewoonlik oor hul vriendelike, spontane geaardheid en die manier waarop hulle ander mense help.

Daar kan baie positiewe dinge, sowel as negatiewe dinge, oor mense in ons land gesê word. Elke provinsie het unieke mense en skatte wat die ander provinsies nie het nie.

In die Noord-Kaap praat die mense maklik Afrikaans. Selfs inwoners wat ander tale magtig is, verstaan Afrikaans − al kan hulle dit dalk nie praat nie.

Daar is ‘n unieke manier waarop die inwoners van die Noord-Kaap Afrikaans praat wat ‘n mens nie volop in die ander provinsies hoor nie.

Jy kan net jou ore in ‘n winkelsentrum of op ‘n sportbyeenkoms spits; jy sal wel iewers iets hoor wat jou gaan laat glimlag.

‘n Tyd terug het ons − te midde van groot werksdruk − deur ‘n familiekrisis gegaan. Ons was gedaan en redelik moedeloos.

Op die ingewing van die oomblik het ek by ‘n plaaslike koffiewinkel gestop. By hierdie betrokke koffiewinkel is al die personeel baie vriendelik en spontaan.

Terwyl ek in die ry gestaan het, het ek ‘n vars toebroodjie raakgesien.

Ek het skielik begin wonder wanneer laas ek iets voedsaams geëet het. Die broodjie het my aandag gehou. Dit het soos rogbrood gelyk met hoender en agurkies en ander interessanthede, met ‘n romerige sousie.

Teen die tyd dat die kassier my bedien het, het ek gevra: “Is hierdie toebroodjie van julle lekker?”

Hy het geglimlag.

“Dit gaan ‘n wonderwerk wees as mevrou hierdie broodjie geëet het en nog lippe oor het.”

Ek het gelag en die broodjie gekoop. In alle eerlikheid was dit ‘n groot heerlikheid. Dit het fisiek en emosioneel waarde tot my dag toegevoeg.

Dankie vir diegene wat so mooi en so maklik Afrikaans praat.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article