Die lang lys van internasionale dae wat elke maand plaasvind, skep ‘n eerste (vlugtige) gedagte dat sommige van hierdie dae om bewustheid te skep, vergesog of sommer aksie-fliek-geite is.
Soos die internasionale dag vir die voorkoming van en stryd teen alle vorme van transnasionale georganiseerde misdaad op 15 November. Dié dag herinner aan James Bond se skiet-en-skop teen misdadige sindikate wat hy moeiteloos in ‘n pak en blink leerskoene uitvoer.
Tog sê die Verenigde Nasies (VN), wat ook bewusmaking van dié dag skep, dat georganiseerde misdaad oor landsgrense heen uiters winsgewend is. Dit kring wyd uit, beïnvloed regerings- en politieke prosesse, en kan regsgesag verswak.
Dit sluit die onwettige handel in vuurwapens, dwelms, beskermde plant- en dierspesies, kulturele eiendom, vervalste mediese produkte, mensehandel en die smokkel van migrante in. Geldwassery is deel hiervan, ook aanlynmisdaad wat moeiteloos oor vastelande heen met rasse skrede toeneem.
Met georganiseerde misdaad is die wêreld klein met geen grensheining te hoog of teikenland te ver nie. Boonop is hierdie sindikate meesters van veerkragtigheid en pas moeiteloos by veranderende situasies aan, aldus die VN.
Lees jy die nuus besef jy hierdie tipe misdaad vind elke dag onder ons neuse plaas.
Die naweek is berig oor drie jong vroue van Botswana wat op die OR Tambo Lughawe in hul reis na ‘n lot van mensehandel gestuit is. Deur sosialemediaplatforms is hulle onder valse voorwendsels van werksmoontlikhede oorreed om via Suid-Afrika na Sierra Leone te reis. Berigte oor vermiste kinders, waarvan sommige nooit gevind word nie, is algemeen. “Stories” dat sulke kinders soms oor landsgrense weggevoer word, is nie vergesog nie.
Die unieke Noord-Kaapse skatkis van skaars vetplantspesies; ietermagogs wat tot uitwissing gestroop word; renosterhorings en sakke vol dwelms wat in selfs die kleinste dorpie gevind word, is deel van hierdie misdaad.
Volgens die VN steel georganiseerde misdaad nie net geld nie, maar ook mense se toekoms, maak gemeenskappe korrup. Die miljarde wat aan die onwettige geldvloei verlore gaan, verteenwoordig gemiste geleenthede, verlore lewensgeleenthede en vererger armoede.
Daarom is dit tragies dat soveel werklose Suid-Afrikaners vanuit ‘n doodloopstraat hierby vir ‘n inkomste betrokke raak. Dit is juis hulle wat telkens die prys met gevangenisstraf betaal, terwyl sindikaatmeesters in pakke en blink leerskoene soos James Bond keer op keer op hul voete land.




