Drie Chinese burgers is in die Kimberley-streekhof ‘n gesamentlike boete van R400 000 opgelê vir die besit van perlemoen ter waarde van meer as R1,9 miljoen.
Dié drie, Yanhul Yang (34), Zhang Shuicai (24) en Jinxiang Chen (60) is op 24 Julie skuldig bevind op die oortreding van die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne, asook oortredings op die Wet van Geldwassery, sê luitenant-kolonel Tebogo Thebe, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke).
Hul vonnis volg ná lede van die polisie se provinsiale georganiseerde misdaad-ondersoekeenheid op 26 April vanjaar inligting ontvang het oor ‘n laboratorium op ‘n plaas by Douglas waar dwelms moontlik vervaardig word. Met die opvolg van die inligting is twee burgers van Malawiese oorsprong in die huis gevind. Tydens die deursoeking van die perseel is perlemoen ontdek en nie dwelms nie.

Die Malawiërs het die polisielede in kennis gestel dat hul werkgewers, wie Chinese burgers is, later sou opdaag. Twee Chinese mans is gevolglik in hegtenis geneem. Op die perseel het die polisie gasbranders en -bottels, waaiers, asook die perlemoen gevind. Dié toerusting is gebruik om die perlemoen te droog. Met ondervraging het die twee Chinese mans aangedui dat hul werkgewer in Douglas is.
Lede van die Valke in Kimberley is in kennis gestel, en van sy lede het dié werkgewer in Douglas besoek wat tot die derde inhegtenisname gelei het. Beslag is gelê op die perlemoen, voertuie en alle toerusting. ‘n Totaal van 8 136 eenhede perlemoen ter waarde van R1 970 829,75 is in hul besit gevind. Die waarde is in samewerking met die departement van bosbou, visserye en omgewing bepaal.
Ooreenkoms aangegaan
Verlede week, op 24 Julie, het die drie beskuldigdes ‘n pleit- en vonnisooreenkoms met die staat ingevolge die Strafproseswet aangegaan. Hulle is skuldig bevind en soos volg gevonnis:
Aanklag 1: Alle beskuldigdes word gevonnis tot 36 maande gevangenisstraf wat in geheel vir ‘n tydperk van vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hulle nie in die tydperk skuldig bevind word aan ‘n oortreding van die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne nie.
Aanklag 2: Alle beskuldigdes word gevonnis tot 36 maande gevangenisstraf wat in geheel vir ‘n tydperk van vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hulle nie in die tydperk skuldig bevind word aan die oortreding van die Wet op Geldwassery nie.
Dit is verder gelas dat die beskuldigdes gesamentlik R400 000 voor 1 Augustus vanjaar in die bateherwinningsrekening moet betaal.
Die provinsiale hoof van die Valke in die Noord-Kaap, generaal-majoor Stephen Molefi Mabuela, het die goeie ondersoek deur albei spanne polisiebeamptes geprys.




You must be logged in to post a comment.