Weslander het einde Maart berig oor ‘n robaanval in Dwarskersbos (“Rob val vrou (79) aan”, 26 Maart). Skaars ‘n week later is nóg ‘n aanval aangemeld, dié keer op die strand voor die Stywe Lyne-vakansieoord in Laaiplek, Velddrif.
Zack Rossouw en sy familie besoek al vir die afgelope 40 jaar hul vakansiehuis by Stywe Lyne uit hul tuisdorp, Welkom, in die Vrystaat. Die afgelope Paasnaweek was geen uitsondering nie.
Op Goeie Vrydag (3 April), kort ná 19:00, het Rossouw saam met sy ma op die strand gestap toe hy iets tussen die seegras sien beweeg. “Ek het ‘n rob gesien wat eers gelyk het of hy met die kelp baklei, maar toe besef ek dis ‘n gevaarlike situasie,” vertel hy.
Hy het onthou van Weslander se berig oor ‘n robaanval in Dwarskersbos en het besef hulle kan in gevaar wees. Sy eerste prioriteit was om sy ma veilig te kry. “Sy kon betyds deur die hek teruggaan na die oord, maar die rob het al nader gekom.”
Rossouw het begin hardloop, maar op die sagte sand geval. “Dis nie maklik om op sand te hardloop nie. Ek het geval en toe het die rob my aangeval. Sy tand het deur my kuit gesteek.”

Hy het alles in sy vermoë gedoen om die dier af te weer. “Ek het geskop, met my skoen probeer slaan en selfs ‘n vuishou toegedien, maar dit was asof die dier besete was en net wou aanhou aanval.”
Rossouw kon uiteindelik met ‘n byt aan sy been ontsnap en is na die Life Weskus-hospitaal se ongevalle-eenheid geneem.
Hy het ook onthou dat die nommer van Etienne Swanepoel in Weslander se vorige berig genoem is, en hom gekontak. Swanepoel en plaaslike owerhede was die volgende oggend op die toneel, waar die rob steeds in vlak water gewaar is, maar kort ná hul aankoms in die see verdwyn het en nie gevang kon word nie.
Die Bergrivier-munisipaliteit het op Donderdag 2 April in ‘n openbare kennisgewing gewaarsku dat ‘n rob in die Dwarskersbos-gebied positief vir hondsdolheid getoets is. Hoewel sulke voorvalle skaars bly, word inwoners en besoekers versoek om uiters versigtig te wees.
Lede van die publiek word gemaan om nie robbe of enige wilde diere te nader of aan te raak nie, veral nie as hulle ongewone gedrag toon soos aggressie, verwarring, oormatige kwyling of ‘n gebrek aan vrees vir mense het nie.
Rossouw sê hy is dankbaar dat sy ma ongedeerd is. “Ek is net dankbaar dit het nie met haar of my kinders gebeur nie.”
Benewens die byt self, is die behandeling ook pynlik. Rossouw het ‘n inspuiting teen klem-in-die-kaak ontvang en moet nog verdere inspuitings kry. “Die rob se gedrag was asof hy hoogs geïrriteerd was, asof ek hom pla en hy my uit die pad wou hê.”
Hy waarsku dat mense nie robbe moet onderskat nie. “Mense is van nature nuuskierig, maar my boodskap aan gesinne wat strandvakansies geniet, is eenvoudig, moenie enige wilde dier onderskat nie. Hou jou afstand en hou jou gesin naby.”
Tree só op as rob of wilde dier aggressief raak:
• As ‘n rob of ander dier vreemd optree:
• Hou ‘n veilige afstand.
• Maak seker kinders, troeteldiere en veral bejaardes bly ver weg.
• Meld die voorval by die betrokke owerhede aan.
Baie belangrik: Enigiemand wat deur ‘n wilde dier gebyt of gekrap word, moet onmiddellik mediese hulp verkry. Meld waarnemings of aanvalle by Donnie Malherbe (CapeNature) by 082 455 5569 of Etienne Swanepoel (‘n slanghanteerder in Velddrif) by
082 066 3911 aan.
.






You must be logged in to post a comment.