Hiermee die sesde aflewering van ‘n reeks wat ‘n Noord-Kapenaar oor die lewe saam met ‘n narsistiese ma geskryf het. Lees vorige aflewerings hier.
Sy sit die bakkie met souskluitjies voor my neer.
“Ek het spesiaal jou gunstelingnagereg gemaak,” kondig sy aan en deel die oorblywende bakkies nagereg aan die res van die mense uit.
Ek staar na die nagereg voor my. Dan tel ek die lepel op en haal diep asem. Souskluitjies is haar gunstelingnagereg, nie myne nie.
Narsiste beskou hul slagoffers as verlengstukke van hulleself. Die feit dat hulle slagoffers individue met hul eie voor- en afkeure is, is vir hulle ondenkbaar.
Inteendeel, dit frustreer hulle grensloos as jy van iets hou waarvan hulle nie hou nie of in iets belangstel waarin hulle nie belangstel nie.
Vanuit hul oogpunt grens jou optrede byna aan opstandigheid. Hoe durf jy dink jy gaan jou eie voor- en afkeure hê? Jy sal maak soos hulle sê. Punt.
Oningeligte mense sal maklik raad uitdeel. “Sê net vir haar jy hou nie van souskluitjies nie. Dis eenvoudig.”
Wat jou verhouding met ‘n narsis betref, is niks eenvoudig nie. Niks. Die ingewikkeldheid wat met so ‘n verhouding gepaard gaan, grens aan waansin.
Jy leer baie vroeg om die pad van die minste weerstand te volg. As dit beteken jy eet waarvan jy nie hou nie of doen waarvoor jy nie kans sien nie om sover moontlik vrede te bewaar, doen jy dit.
Die vrede is gewoonlik van korte duur. Dalk ‘n uur of twee. As jy baie gelukkig is ‘n dag of twee. Daarna kry die narsis die volgende ding om oor ongelukkig te wees. Selfs al is dit oor iets soos souskluitjies.
‘n Narsis se deursettingsvermoë is so goed dit is eintlik kommerwekkend. As hulle hul sin wil kry sal hulle aanhou totdat jy uiteindelik ingee. As jy lank genoeg ‘n narsis in jou lewe het leer jy om baie vinnig in te stem. Of dit jou ses minute of ses maande gaan neem om in te stem, instem gaan jy moet instem.
Hoe langer hierdie periode verloop, hoe moeiliker gaan die narsis raak en hoe meer tyd gaan daarvoor in beslag geneem word.
As dit beteken jy neem die lepel in jou hand en gooi die souskluitjies in jou keel af terwyl dit lyk of jy dit geniet, is jy relatief veilig. Vir nou.
Daar gaan in elk geval nie skade wees as jy dit so doen nie. Tensy jy in ‘n situasie is waar jy dit vir dekades aaneen moet doen – dan is daar ongelukkig ander gevolge.
Die onsigbare dekmantel wat oor emosionele mishandeling hang maak dat slagoffers nie herken of gehelp word nie. Jy moet self probeer oorleef.
- Ek skryf oor hierdie littekens wat ek in my hart ronddra om ‘n fisiese bewys te hê van ‘n lewe wat ek nie wou leef nie. As dit iemand kan help om uit die wurggreep van narsisme weg te breek, soveel beter.


