NAMIBIë – Namibië se ergste bek-en-klouseerkrisis in ses dekades kan Suid-Afrikaanse beesboere raak indien die handel in speenkalwers ontwrig word en meer Namibiese vleis op die plaaslike mark beland.
Namibië lewer normaalweg speenkalwers aan Suid-Afrikaanse voerkrale, waar die diere dikwels goedkoper as plaaslike kalwers aangekoop word. Indien die toevoer weens die uitbreking onderbreek word, kan die beskikbaarheid van kalwers in Suid-Afrika afneem en pryse styg.
Friedl von Maltitz van Vrystaat Landbou het gesê Suid-Afrikaanse beesprodusente kan aanvanklik by ‘n tekort aan Namibiese kalwers baat, maar die groter vleismark se situasie is meer ingewikkeld.
“Die plaaslike vleispryse behoort voorlopig relatief stabiel te bly,” het Von Maltitz gesê.
Volgens hom produseer Suid-Afrika meer vleis as wat die plaaslike mark benodig. Die land is daarom sterk van uitvoermarkte afhanklik. Indien uitvoergeleenthede beperk word en ‘n oorskot vleis plaaslik ontstaan, kan pryse egter onder druk kom en produsente se winsgrense verklein.
David Niemand, medehoof-uitvoerende beampte van die Sernick-groep, het gesê slaglam- en beespryse in Suid-Afrika het die afgelope twee weke aansienlik gestyg.
LEES OOK: Bek-en-klouseer: Vinnige optrede oor bewerings van gelaaide pryse geloof
Volgens Niemand voer Namibië normaalweg ‘n redelike hoeveelheid speenkalwers na Suid-Afrika uit. Die bek-en-klouseer-uitbreking in die Karasburg-gebied en die daaropvolgende bewegingsbeperkings kan die handel egter ontwrig.
Namibië beskik steeds oor uitvoermarkte soos die Europese Unie en China. Niemand het gesê die huidige situasie kan daartoe lei dat meer van Namibië se produkte uiteindelik na Suid-Afrika beweeg indien uitvoerkanale onder druk kom.
Hy het Namibië se hantering van die uitbreking as streng beskryf en gesê verdere maatreëls ten opsigte van diere in die besmette gebied word oorweeg.
Die uitbreking in die Karasburg-distrik in die Kharas-streek het teen Vrydag 2 Oktober tot 79 bevestigde gevalle op 11 plase versprei. Die virus is as serotipe SAT 1 geïdentifiseer.

Die land se regering het ‘n landwye verbod op die verskuiwing van vee en vleisuitvoere ingestel.
Volgens die Namibiese ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming is 531 monsters ontleed, waarvan 450 negatief getoets het. Dertien toesigspanne is ontplooi en meer as 15 000 diere is reeds ondersoek.
Mooketsa Ramasodi, direkteur-generaal van die Suid-Afrikaanse departement van landbou, het gesê die uitbrekings in die streek wek kommer en beklemtoon die noodsaaklikheid van gesamentlike optrede en voldoende voorsorgmaatreëls.
Die landbouministers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het in Mei besluit dat ‘n omvattende streekbenadering benodig word om bek-en-klouseer en ander dieresiektes te bekamp om die internasionale marktoegang te beskerm.
Volgens Von Maltitz is tussen 60% en 70% van die Vrystaat se vee tydens die vorige inentingsronde ingeënt. Die beplande tweede ronde voor Desember is egter onseker weens ‘n tekort aan staatsfondse en entstof.
Die situasie in Botswana kan die Suid-Afrikaanse mark verder bemoeilik. Die land sukkel reeds met bek-en-klouseer en beskik oor groot hoeveelhede beesvleis wat moeilik na tradisionele uitvoermarkte verskeep word. Indien meer van die vleis na Suid-Afrika vloei, kan dit plaaslike pryse laat daal.
Dit kan verbruikers bevoordeel, maar terselfdertyd verdere druk op Suid-Afrikaanse beesboere plaas.
Vir Suid-Afrika lê die risiko nie net in die beskikbaarheid van vee nie, maar ook in die beskerming van plaaslike pryse, produsente se winsmarges en toegang tot internasionale markte.






You must be logged in to post a comment.