Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

MENING | Ons is regtig nie almal so nie, tog roer ons saam in die pot


Soms kan jy nie help om jou gesig op ‘n plooi te trek en die lekkersê-titel van ‘n boek van die Suid-Afrikaanse skrywer, wyle Jeanne Goosen, aan te haal nie: “Ons is nie almal so nie.”

Al word mense in dieselfde gebied groot, is van dieselfde rasgroepering, woon dieselfde skool by, doen by dieselfde winkels inkopies (en berei daarom maaltye met naastenby dieselfde bestanddele voor en dra naastenby dieselfde klere), en werk, droom en skel in dieselfde taal, is hulle nie dieselfde nie.

Soms, wanneer jy jou gesig so op ‘n plooi vervorm tydens jou verbystering met “jou mense” se doen en late, wonder jy wat jou erfenis nou eintlik is.

So kan ‘n mens dalk op Erfenisdag in Suid-Afrika by elke erfenisviering omdraai omdat jy daar ontuis voel. Want jy wil uitroep: “Wat de hoender!” en sommer ook vir die lekker daarvan vra: “Wie is Jan Hoender?” (nog ‘n Goosen-boektitel).

Die United Nations Educational, Scientific and Cultural Organisation (Unesco) beskryf erfenis as “ons nalatenskap uit die verlede, dit waarmee ons vandag leef en dit wat ons aan toekomstige geslagte oordra. Ons kulturele en natuurlike erfenis is albei onvervangbare bronne van lewe en inspirasie.”

Hierdie beskrywing is sekerlik pure speelklei en sal in elkeen se hand ‘n ander vorm aanneem.

Só kan een as deel van nalatenskap uit die verlede steeds juffrou Geytenbeeck (of juffrou “Gryp-en-Breek” soos sy donkiejare terug deur haar huishoudkunde-leerders genoem is), se strenge voorskrifte van “ruim op terwyl jy kos voorberei” en “vee altyd die wasbakkrane blink nadat jy skottelgoed gewas het” slaafs uitvoer.

Net so kan elkeen weens ‘n unieke verlede in vandag se dae pure “Daantjie Dromer” wees, of so besorgd wees om nie uit die groep te wees nie dat die beginsel van “Om ‘n mens na te boots” aangehang word. Ander weer, weens invloede uit die verlede, is vandag se dae gedurig besig met ” ‘n Kat in die sak”.

Nog ander ken boektitels soos dié van Goosen uit die kop en kan A.G. Visser se “As ou tant Siena straat-op loop, Om antipon of spek te koop, Sê dié wat pad maak: Dank die Heer! En sit hul sware stampers neer. Verlede Sondag in die kerk, Merk ek nog weer die wonderwerk, Die eienaardigste geval: Sy wou gaan sit, toe sit sy al!” gevraagd en ongevraagd opsê.

Die erfenis wat hedendaags vir toekomstige geslagte voorberei word, herinner aan ‘n yslike kokende pot waaruit die stoom trek. Geure uit dié pot is afwisselend aptytwekkend en afstootlik, en wat presies in dié pot kook, is onbekend.

Mag elkeen van ons wie se hand in dié pot roer en iets byvoeg, dit só doen dat die erfenis wat uiteindelik aan die nageslag opgedis word nie net eetbaar is nie, maar ook vullend, vervullend en heilsaam.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article