In hoofletters, gevolg deur ‘n rits uitroeptekens, wil ons uitroep oor die Hantavirus wat ons verder deurmekaar kom dolwe.
‘n Mens kan nie eens praat van “vrede kom versteur nie”, want vrede bestaan allermins in ons huise, skole, kerke – en nog minder in raadsale, soos wat die Sol Plaatje-munisipaliteit maande lank reeds puik demonstreer.
Op ons paaie bestaan vrede nie – as dit nie slaggate is nie, is dit skarminkels wat blindweg, onkundig en koelbloedig bestuur.
Kom jy veilig in die winkel aan om kruideniersware aan te vul, skouer die hardlopende pluk-van-die-rak-en-pak-in-die-sak met die aanlyn app in die hand jou uit die pad – want voor dié aanlyninkopie-en-afleweringdiens word kleinvrede prysgegee.
Intussen woed die hoë-intensiteit oorloë tussen Rusland en die Okraïne, en Israel en Palestina, met wydkringende gevolge voort.
Boonop, op die interaktiewe gids Global Conflict Tracker word nagenoeg 30 konflikte van oor die wêreld heen gelys wat die Verenigde State direk raak. Die Verenigde State se kuslyn is wel ongeveer 12 000 km weg van Suid-Afrika s’n, en Israel nagenoeg 7 000 km, maar tog beïnvloed hierdie konflikte ons direk en indirek.
Terug na ons nuutste vrede-versteurder, die Hantavirus: Glo ‘n gevaarlike virus wat hoofsaaklik deur knaagdiere oorgedra word. Mense word besmet deur lugdeeltjies van besmette knaagdier-urine, mis of speeksel in te asem.
Anders as met die korona-virus (wie onthou nie die Covid-19-pandemie nie), word dit gewoonlik nie van persoon tot persoon oorgedra nie. Die beste beskerming is glo om kontak met knaagdiere te vermy en knaagdierbesmette ruimtes en oppervlakke te ontsmet.
Ter wille van vrede vir die gemoed in ‘n wêreld vol onvrede: Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê dié nuutste voorkoms van die Hantavirus is nie die begin van ‘n pandemie nie; dit is ook nie ‘n nuwe virus nie.
Professor John Drake aan die Universiteit van Georgia skryf in ‘n Forbes-artikel: “Meer as ses jaar ná die koronaviruspandemie vra mense: ‘Is dit die volgende Covid?’ Ek bestudeer die dinamika van aansteeklike siekte-uitbrekings, en die kort antwoord is: ‘nee’. Die biologie van hierdie virus maak grootskaalse verspreiding uiters onwaarskynlik.”
Amy Rhoeder van Harvard School of Public Health haal kundiges aan wat sê die virus sal verskeie evolusionêre veranderinge moet ondergaan om ‘n pandemie-bedreiging te word, en dit is onwaarskynlik dat dit wyd sal versprei.
So, laat ons die vredesvlae hys.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.





