By dié plaasskool was dit ook die gebruik om op 1 September “lenteklere” aan te trek. Omdat die naaste dorp ver was en nie juis klerewinkels gehad het nie, het die plaasvroue laatnagte gebukkend voor die trapnaaimasjiene – by lamplig – gesit en skeppings vir die meisies gemaak.
Die seuns was nie oor lenteklere gepla nie; vir hulle het dit net ‘n kortbroek en kortmouhemp beteken, en beslis kaalvoet. Vir hulle was dit meer as genoeg dat hulle op daardie dag met hul perd skool toe kon ry.
Getrou aan tradisie was die meeste Lentedae ysig, met ‘n snerpende wind vanuit die suide.
Die laatnaggeskepte rokkies was onder truie verberg en hoendervel van pure koue het heeldag oor die meisies se bene uitgeslaan.
Gelukkig, by dié plaasskool met sy drie klaskamers waarin tot drie verskillende grade of standerds in een klas onderrig ontvang het, was daar in elke klaskamer koolstofies. Byna elke wintersdag is op een van die stofies ‘n groot pot sop gekook – genoeg vir die ongeveer 60 leerders van die skool.
Dit was nie vreemd om Lentedag te vier terwyl jou ysige hande om die warm koppie sop gevou was nie.
Deel van winters by dié plaasskool was rugby- en netbalwedstryde teen dorpskole. By dié plaasskool, soos by die drie ander in die omliggende gebied, het elke leerder deelgeneem – anders was daar tussen dié vier skole nie genoeg om ‘n span in ‘n spesifieke ouderdomsgroep vol te maak nie.
Benewens die onthou dat netbal gespeel is in dieselfde drag as waarin atletiek gedoen is – ‘n leotard met ‘n rompie – word die koue kaalvoete op die hardgerypte grasnetbalbaan onthou. En die nerf-af knieë en stukkende tone van die seuns. Tekkies was ‘n vreemdheid vir dié kinders.
Met rustyd is lemoenskyfies op skinkborde aangedra. Dié kinders het nie geweet dit is ‘n algemene gebruik, en nie net in hul wêreld nie. Hulle het niks geweet van die informele uitdrukking “cutting the half-time orange” wat beteken om halfpad deur ‘n aktiwiteit op te hou, of ‘n blaaskans te vra en die ondersteuning van ‘n moederfiguur te soek wanneer jy uitgeput is.
Vir hulle het die lemoenskyfies die dors geles en energie gegee.
Dit het moed gegee vir dié wat nie die spelreëls verstaan het nie en maar net binne perke tydens die wedstryd rondgespring het om besig te lyk – vir hulle was lemoenskyfie-tyd die teken dat die wedstrydmarteling darem halfpad verby is.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.



