Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard
Noordkaap Bulletin

MENING | Hoe meer ‘n mens hieroor dink, hoe meer knoop die kraaines


‘n Mens dink en wonder of dit so moeilik kan wees, en of dit soveel jare, vergaderings, gevegte, voetgesleep én verliese moet behels voordat Kimberley se enigste trem weer bedryf word.

Kan Kimberley, waarna so graag in hoër kringe verwys word as die “stad van eerstes“, nie asseblief sy stokou lys van eerstes ‘n slag met nuwe noemenswaardige aksies uitbrei nie? Soos byvoorbeeld om die eerste munisipaliteit in 2026 te wees wat werklik uit sak en as opstaan, daadwerklik sy voet neersit oor agteruitgang op alle terreine, en alles en almal in sy gebied vir ondersteuning nader om die sogenaamde Diamantstad werklik te laat skitter?

Kimberley was ‘n “plek” voor Johannesburg iets anders as net ‘n landelike gebied was: Diamante is hier ontgin nog voor goud aan die Witwatersrand ontdek is. Kimberley is die aanvanklike middelpunt van industrialisasie in Suid-Afrika, want hier is die eerste tree gegee om die landelike en landbou-ekonomie na minerale rykdom te omskep.

Dit was die eerste plek in die Suidelike Halfrond wat elektriese straatligte gehad het – voor dit selfs in Londen gebruik is. Suid-Afrika se eerste aandelebeurs het hier sy deure geopen.

Die eerste openbare vlug van ‘n vliegtuig wat in Suid-Afrika gebou is, het hier plaasgevind – én die land se eerste vliegtuigongeluk.

Kimberley word as die geboorteplek van die Suid-Afrikaanse Lugvaartkorps beskou, die land se eerste professionele opleiding vir verpleegkundiges het hier plaasgevind, en die eerste privaat posafleweringsdiens was hier in werking.

LEES OOK: Kimberley se historiese trem ry weer in Desember, as planne nie ontspoor

Met al dié prestasies in ag genome, en gedagtig aan soveel meer uitdagings wat in daardie tydperk bestaan het, terug na die historiese trem: Dit is slegs een trem wat herstel moet word met ‘n stuk tremspoor en oorhoofse kragtoevoerlyn van enkele honderde meters wat opgeknap moet word; ‘n paar mense moet opleiding ontvang; en ‘n stuk van ‘n straat wat skoongemaak en verfraai moet word.

Boonop is die trem bekend. Kimberley se Groot Gat het nie bekendstelling nodig nie.

Waarom nie die gevoetsleep agterlaat en begin doen nie? Werklik doen nie?

Goed begin is half gewin, lei die spreekwoord en sodra een so ‘n aksie suksesvol deurgevoer word, kan die volgende een aangepak word.

Kimberley het soveel moontlikhede, maar onder die heersende trietsighede sal geen diamant kan blink nie.

Dalk dink ‘n mens te veel en dan maak die gedagterigtings ‘n wanordelike kraaines. Tog word daar gedink dat die tyd vir praatjies lankal verby is, en dat hande gelig moet word vir werk.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article