Twee jongmans se lewens is vir altyd verander op 16 Oktober 2024, maar terwyl die Matie Jesse Mitchell se familie altyd sy lewe sal koester, sal Rudolf Hufke (20) nou sy lewe in die gevangenis moet deurbring.
Hufke, van Cloetesville, is vandag (3 November) in die Stellenbosch-streekhof lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Mitchell ‘n jaar gelede.
Mitchell was verlede Oktober op sy 19de verjaarsdag in Jan Cilliersweg op sy elektriese fiets onderweg toe Hufke hom in die nek gesteek het. In beeldmateriaal wat Maandag in die hof gespeel is, kan gesien word hoe Mitchell verder ry op die fiets selfs nadat hy gesteek is. Die eerstejaar BSc-rekenaarwetenskapstudent het dit tot in Borcherdsweg gemaak waarna sy fiets teen die sypaadjie gebots en hy neergeval het.

Hierna het Hufke onder meer Mitchell se rugsak, sakrekenaar en selfoon gebuit en gevlug.
Hufke is later die dag deur die Stellenbosch-polisie in hegtenis geneem vir die moord en rooftog.
Volgens sy pleitooreenkoms met die staat het Hufke skuld beken aan Mitchell se moord, roof met verswarende omstandighede, sowel as ‘n tweede klag van roof met verswarende omstandighede, wat hy die dag voor Mitchell se dood gepleeg het.
Mitchell se familie was in die hof vir die vonnisoplegging en sê hoewel hulle steeds die sonskyn-seun se dood verwerk, is hulle tevrede met die uitkoms van die saak. Kevin Mitchell, Jesse se oom, het beide die polisie, veral die ondersoekbeampte, speursers. Kelvin Moses, sowel as die staatsaanklaer, William Da Grass, vir hul deursettingsvermoë en goeie werk geprys om die saak tot ‘n einde te bring. “Geregtigheid is ‘n moeilike ding,” het Kevin gesê. “Dit sal nie vir Jesse terugbring nie. My hoop is wel dat [Hufke] die tragedie gebruik om sy lewe om te draai terwyl hy in die tronk is.”
Buiten lewenslange tronkstraf is Hufke ook 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede en nog 15 jaar vir die tweede rooftog opgelê. Hufke sal die vonnisse gelyktydig uitdien.







You must be logged in to post a comment.