Terwyl kinders leer om met diere om te gaan, oefen hulle belangrike lewensvaardighede, en op hul beurt het hul gedrag ‘n direkte impak op die welstand van troeteldiere. Foto: Unsplash

Kinders het van nature ‘n besondere aantrekking tot diere, of dit nou ‘n hondjie, ‘n kat of ‘n voëltjie is – iets in diere wek kinders se nuuskierigheid, empatie en vreugde.

Hierdie interaksie werk egter nie net in een rigting nie. Daarom is dit noodsaaklik dat ons kinders van kleins af leer om sag te wees in woord, in daad en in hart wanneer hulle met troeteldiere werk.

Vormingsjare

Die eerste lewensjare van ‘n kind is wanneer karakter gevorm word. Op hierdie ouderdom leer hulle van reg en verkeerd, hoe om hulself uit te druk en hoe om ander mense én diere te hanteer.

Kinders wat blootgestel word aan diere, het dikwels ‘n verhoogde vermoë tot empatie. Hulle begin verstaan dat diere ook gevoelens het en vrees, pyn, honger, eensaamheid en ook vreugde ervaar.

Wanneer ‘n kind leer om sagte hande te gebruik, sag te praat en te wag vir ‘n dier om nader te kom, ontwikkel hulle selfbeheersing en respek. Dit gebeur nie vanself nie.

Ouers, onderwysers en versorgers speel ‘n sleutelrol in hoe hierdie gedrag vorm aanneem. ‘n Hondjie is byvoorbeeld nie ‘n speelding nie. As ‘n kind leer om nie aan ‘n slapende dier te pluk of op ‘n kat se stert te trap nie, word daar ‘n basis gelê vir respekvolle interaksie met alle lewensvorme.

Hoe kindergedrag diere beïnvloed

Diere, veral troeteldiere soos honde en katte, in huishoudings waar kinders rof speel, skree of onvoorspelbare bewegings maak, kan angstig raak of selfs aggressie begin toon uit vrees.

In baie gevalle word hierdie diere later as “problematies” of “gevaarlik” bestempel, hoewel hul gedrag slegs ‘n reaksie op voortdurende spanning of mishandeling is. Diere wat met liefde en sagtheid behandel word, toon egter meer selfvertroue, beter sosialisering en is oor die algemeen gelukkiger en gesonder.

‘n Kind se daaglikse interaksie met ‘n troeteldier – of dit nou die voer van kos is, die borsel van ‘n pels of net rustige tyd saam – dra by tot die dier se algemene welstand. Dit leer die kind terselfdertyd verantwoordelikheid, roetine en versorging.

Ouers is voorbeeld

Kinders leer wat hulle sien. As volwassenes hardhandig, ongeduldig of onverskillig teenoor diere is, sal kinders dieselfde gedrag navolg.

As hulle egter sien hoe volwassenes sag praat, diere troos, seer pote behandel of kos uitdeel met sorg, vorm dit ‘n positiewe model.

Die belangrikheid van voorbeeld in opvoeding kan nie genoeg beklemtoon word nie.

In baie huishoudings het ouers of versorgers nie altyd toegang tot opvoedkundige bronne oor dierewelsyn nie, maar dit beteken nie die waarde van ‘n goeie voorbeeld is afwesig nie. Selfs eenvoudige dade laat ‘n indruk, soos om vir ‘n dors hond vars water te gee.

Gemeenskapsinisiatiewe wat kinders betrek by diereversorging speel dus ‘n kritieke rol om langtermyn-empatie te kweek.

Skole kan help met bewusmaking

Skole is ‘n ideale plek om kinders in te lig oor diere se behoeftes. Kunsprojekte oor diereversorging, klasbesprekings oor hoe om diere te hanteer, of selfs besoeke van dierewelsynorganisasies kan kinders help om te verstaan dat diere voel en ervaar. Sulke kinders sal waarskynlik nie ‘n hond met ‘n klip gooi of ‘n voël “vir pret” vang nie. Hulle sal leer dat elke dier se lewe waarde het.

Onderwysers kan lewensvaardigheidslesse inkorporeer wat fokus op vriendelikheid, empatie, versorging en sagtheid. Dit is alles waardes wat nie net tot voordeel van diere is nie, maar ook interpersoonlike verhoudings versterk.

Sag met diere, sag met mekaar

Deur kinders te leer om sag en verantwoordelik met diere om te gaan, bou ons nie net ‘n kultuur van dierewelsyn nie, maar ook van medemenslikheid.

Dié kinders word volwassenes wat hul omgewing met respek hanteer. Hulle beskou nie diere as blote gebruiksvoorwerpe nie, maar as lewensmaatjies wat ook liefde en versorging verdien.

Laat ons dus die saad van sagtheid in ons kinders plant, dit natlei deur ons voorbeeld, en die vrugte daarvan pluk in gelukkiger diere én gelukkiger mense.

You need to be Logged In to leave a comment.