Elke dag sien ons tonele wat ons harte roer – honde wat in die son sonder water of skaduwee lê, katte wat maer en sieklik ronddwaal, of diere wat hul hele lewe aan ‘n kort ketting deurbring. Hierdie is nie uitsonderings nie – dit is daaglikse realiteite in baie woonbuurte aan die Weskus.
“Dit is maar net ‘n dier,” sê party mense, maar elke dier ervaar koue, pyn, honger en vrees, net soos ons. Hulle het emosies, gewoontes en ‘n behoefte aan veiligheid en liefde.
Hierdie artikel is die eerste van ‘n nuwe weeklikse reeks in Weslander wat sal fokus op diereliefde, opvoeding en praktiese raad oor hoe ons as gemeenskap beter vir ons troeteldiere kan sorg.
Ons doel is nie net om mishandeling aan die kaak te stel nie, maar om ware verantwoordelikheid, respek en deernis aan te moedig. Want waar daar begrip is, volg beter gedrag.
Verantwoordelikheid
Dit is maklik om ‘n hond of kat te kry. Baie word sommer net weggegee of geskenk – sonder nadenke.
Dieresorg vereis egter baie meer as net ‘n bietjie kos in die oggend.
Troeteldiere het nie ‘n keuse waar hulle woon of wie hulle baas is nie. Hulle is heeltemal afhanklik van ons vir alles – kos, skoon water, skuiling, mediese hulp en emosionele verbondenheid.
Verantwoordelike sorg beteken:
• Om elke dag genoeg kos en vars water te voorsien. Sonder uitsondering.
• Om ‘n droë, veilige slaapplek te voorsien – gewis nie in die reën of op koue sement nie, maar onder ‘n afdak, met ‘n kombers of ‘n hok wat winddig is.
• Om die dier te laat steriliseer en ongewenste kleintjies en oorbevolking te voorkom.
• Om met jou troeteldier te speel en te praat, want hulle het sielkundige stimmulasie en liefde nodig.
• Om waarskuwingstekens van siekte raak te sien en betyds hulp te vra.
Nie net wagters of speelgoed nie
Honde is nie alarms nie en katte is nie net daar om muise te vang nie. Diere is lewende wesens met gevoelens. Hulle verstaan roetines, herken stemme, vorm verhoudings en voel selfs wanhoop wanneer hulle geïgnoreer of mishandel word.
As ‘n hond 24 uur per dag aan ‘n kort ketting vas is, of ‘n kat nie eens ‘n skoon plek het om te lê nie, is dit nie net nalatigheid nie – dit is aktiewe wreedheid.
Kinders leer van jongs af hoe om ander lewende wesens te behandel. As kinders sien diere word geslaan, geskop of verwaarloos, leer hulle dit is reg.
Maar as kinders sien hoe jy ‘n hond bederf met ‘n warm kombers of ‘n siek kat veearts toe neem, leer hulle empatie – iets wat hulle vir die res van hul lewe sal bybly.
Dieresorg is dus ook kindersorg.
Gemeenskap se rol
Dieresorg is nie net elke eienaar se verantwoordelikheid nie – dit is ‘n gemeenskapsaak. As jy sien iemand mishandel ‘n dier, of jy weet van ‘n hond wat altyd sonder water sit – sê iets.
Jy hoef nie lelik te wees nie. Dikwels help ‘n vriendelike woord of ‘n eenvoudige aanbod soos ‘n ekstra bak water of ‘n stuk skadunet meer as wat jy dink.
Wanneer ons met dierewelsynsorganisasies of plaaslike dierbeskermingsverenigings saamwerk, versterk ons ons gemeenskap. Party mense weet eenvoudig nie van beter nie en dit is waar opvoeding en vriendelikheid ‘n groot verskil maak. Ander het dalk hulp nodig, maar weet nie waar om dit te kry nie. Jy kan die stem wees vir ‘n dier wat nie kan praat nie.
Wat om te verwag in dié reeks
Elke week gaan ons gesels oor iets anders wat prakties en toepaslik is vir gesinne met troeteldiere:
• Hoe om jou dier in koue weer sonder groot koste warm te hou.
• Mites oor sterilisasie wat mense afskrik.
• Goedkoop maniere om honde en katte gesond te hou.
• Eenvoudige identifikasie vir verlore diere.
• Hoe kinders kan leer om diere reg te hanteer, met liefde en respek.
Ons sal ook stories deel van plaaslike helde – mense in ons gemeenskap wat ‘n verskil maak in diere se lewens en wat wys ‘n mens hoef nie geld te hê om ‘n hart van goud te hê nie. As ons almal nét ‘n bietjie beter doen, ‘n hand uitsteek, inligting deel, sal honde se sterte harder waai, katte meer spin en ons gemeenskap ‘n sagter en veiliger wees – vir mens én dier.


