KIMBERLEY – Inwoners van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley wie se vullissakke reeds meer as ’n week nie verwyder word nie terwyl ander munisipale werk stilstaan omdat munisipale werkers staak, gaan dalk ook deur ‘n betoging getref word weens ontevredenheid oor ‘n “munisipale krisis wat deur die ANC-regering geskep” is.
Die ANC het verlede week vyf van sy afvallige wyksraadslede, Margaret Molatudi, Itumeleng Lekoma, John Diphahe, Yvonne Tau en Christopher Lephoi, afgedank. Die raadslede het 21 dae om teen die bevindinge te appelleer.
Die ANC in die Frances Baard-streek sê die vyf raadslede is met onmiddellike effek uit die party gesit nadat hulle skuldig bevind is aan ernstige wangedrag en die verbreking van die ANC-grondwet. Hulle is ook van die raadslidlys verwyder.
Raadslede soos ‘afstandbeheerde masjiene’ behandel
Kritici, onder meer die plaaslike nuusplatform MyNorthernCape TV, noem die skuif “politieke arrogansie” en sê raadslede word soos “afstandbeheerde masjiene” behandel eerder as verteenwoordigers van die gemeenskap.
Dié platform het ook vir Deshi Ngxanga, ANC-provinsiale sekretaris, as hul sogenaamde “Moegoe van die Week” aangewys weens wat hulle beskryf as arrogante en ontkoppelde leierskap. Ngxanga verwerp die kritiek as “disinformasie” en hou vol hul fokus is op stabiliteit in die munisipaliteit.
Volgens ingeligtes is die vyf afgedankte raadslede se oortreding dat hulle nie ANC-opdragte gevolg het nie en saam met opposisieraadslede ’n spesiale virtuele raadsvergadering gehou het om die begroting ter tafel te lê.
LEES OOK: Provincial oversight turns to litigation: Coghsta takes Sol Plaatje to high court
Bentley Vass, LUR vir samewerkende regering, wil dié begrotingsvergadering in die hof ongeldig laat verklaar. Sy besluit om die munisipaliteit onder administrasie te plaas word egter deur die stadsbestuurder, Thapelo Matlala, in ’n teenaansoek betwis.
Die aansoeke word op 29 Mei aangehoor.
Speaker Dipuo Peters en burgemeester Martha Bartlett probeer reeds sedert verlede jaar om Matlala oor beweerde bedrog te laat afdank, maar hul hofaansoeke het telkens misluk weens hul onreëlmatige prosesse.
Stakings: teen administrasie, teen swak dienste
Die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) staak intussen al langer as ’n week uit protes teen die besluit om die munisipaliteit onder administrasie te plaas. Samwu sê hulle is nie vooraf geraadpleeg nie en weier om aan die vier aangestelde administrateurs verslag te doen.
Die Kimberley Action Group het die afgelope Sondag ‘n massavergadering in Galeshewe gehou om die stad binnekort met ʼn betoging tot stilstand te dwing weens hul griewe, wat insluit die LUR se besluit om die munisipaliteit onder administrasie te plaas, elektrisiteitsverhogings en die implementering van basiese fooie, slaggate, wateronderbrekings, informele nedersettings en onwettige immigrante. Hul slagspreuk “Together We Are Sanitized”, dui op ‘n begeerte om die munisipaliteit skoon te maak van “politieke speletjies en korrupsie tot nadeel van dienslewering”.
Boyce Makodi, een van die sameroepers, sê “Kimberley staan reeds een voet in die graf, en dat indien die gemeenskap nie saamstaan nie, gaan die magtige politieke wind almal in die graf waai.” Hy het inwoners versoek om op 29 Mei in die hooggeregshof te wees wanneer die LUR se aansoek en die stadsbestuurder se teenaansoek aangehoor word.
‘ANC tot nou gered deur swakker opposisie’
Die politieke ontleder, prof. André Duvenhage, meen die ANC is desperaat om beheer te behou.
Ingeligtes beweer die ANC wil veral toegang tot finansiële bronne soos die Begrotingstoelae vir Infrastruktuur (BFI) van R2,5 miljard van die munisipaliteit bekom.
Duvenhage sê die bewerings beteken die party se integriteit word op verskeie vlakke bevraagteken en verloor dit toenemend legitimiteit.
LEES OOK: Politieke toutrekkery in Sol Plaatje-munisipaliteit ten koste van hoofstad
Hoewel vyf ANC-setels nou effektief vakant kan wees, sal daar waarskynlik geen tussenverkiesings wees nie omdat die plaaslike verkiesing op 4 November te naby is.
Dit beteken Kimberley sal waarskynlik tot later vanjaar met ’n onvolledige en verswakte raad moet klaarkom, terwyl administrateurs beheer uitoefen.
Duvenhage waarsku dat die ANC se steun in die Noord-Kaap, veral in Kimberley, skerp kan daal. Hy sê politieke apatie en sterker organisasie by opposisiepartye maak dit moeiliker vir die ANC om sy kiesers te mobiliseer.
Volgens Duvenhage is die ANC se politieke oorlewing in die Noord-Kaap ten nouste gekoppel aan die optrede van sy teenstanders.
Hy voer aan dat die ANC vir ‘n “baie lang tyd” in die Noord-Kaap gered is deur die “swakker as gemiddelde prestasie” van opposisiepartye soos die DA en die EFF.
“Die ANC is nou in ‘n baie swak posisie, selfs swakker as ‘n 50/50-scenario. Indien hy wel 50% van die stemme kry, sal dit slegs sal wees omdat die opposisiepartye onderpresteer.”
Die ANC het ‘n “relatiewe onvermoë” om sy kiesers te mobiliseer weens groeiende politieke apatie. Nuwe toetrederpartye soos Action SA kan tot die groeiende weerstand teen die ANC bydra.
‘Geen tussenverkiesing tot plaaslike verkiesing’
Ingevolge die Wet op Munisipale Strukture moet tussenverkiesings binne 90 dae ná ‘n vakante vakature deur die Verkiesingskommissie (IEC) gehou word. Maar ingevolge die nege maande-reël mag geen tussenverkiesing uitgeroep word as ‘n algemene plaaslike regeringsverkiesing binne nege kalendermaande ná die ontstaan van die vakature geskeduleer is nie. Die verkiesingsdatum vir 4 November is reeds op 30 April aangekondig.
Dit beteken setels bly vakant tot die land na die stembus gaan.
Die verkiesingsdatum word amptelik in die Staatskoerant geproklameer, waarna die nasionale kieserslys sluit om die integriteit van die November-verkiesing te verseker.





