Die saak teen die moordbeskuldigde Rudolf Hufke is Maandag 22 September uitgestel tot Vrydag 3 November wanneer hy na verwagting tot ‘n pleitooreenkoms sal instem wat verband hou met die moord van die Matie Jesse Mitchell.

Hufke (20) staan tereg weens die moord op Mitchell, wat op 16  Oktober 2024 – sy 19de verjaardag – in Borcherdweg dood-gesteek is.

Mitchell, ‘n eerstejaar- BSc-rekenaarwetenskap-student, was in die vroeë oggendure op sy fiets onderweg toe hy gesteek is. Hufke is dieselfde dag deur die Stellenbosch-polisie in hegtenis geneem.

Rudolf Hufke in die Stellenbosch-hof. Foto: Francois Lombard
Rudolf Hufke in die Stellenbosch-hof. Foto: Francois Lombard

Die staat het Maandag in die Stellenbosch-landdroshof beeldmateriaal as bewys ingedien wat blykbaar baie belangrik is.

Nadat Hufke en sy regsverteenwoordiger na die beeldmateriaal gekyk het, het die regsverteenwoordiger aangedui Hufke het gesê hy sal ‘n pleitooreenkoms met die staat aangaan.

Die saak is tot November uitgestel vir die aansoek om ‘n pleitooreenkoms, die onderhandeling vir ‘n vonnisooreenkoms asook ‘n verklaring van die beskuldigde se paroolbeampte.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article