Plakkers bou boomhuis in Worcester.
Onwettige besetters het nadat die munisipaliteit hul struktuur afgebreek het, dit in ‘n boomhuis omskep. Foto: Ronél van Jaarsveld

Onwettige plakkers het onlangs ‘n verrassing opgelewer toe hulle die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) se teenbesettingseenheid probeer ontglip het deur ‘n boomhuis te bou.

Die BVM het op klagtes dat ‘n onwettige struktuur langs die damwal in Hospitaalheuwel, Worcester opgerig is, gereageer. Volgens Julian Kritzinger, ‘n raadslid, het die eenheid onmiddellik reageer om die struktuur af te breek, maar ‘n vragmotor was nie onmiddellik beskikbaar om die bourommel weg te ry nie.

Die vragmotor het die volgende dag opgedaag maar die bourommel was nêrens te siene nie . . . totdat ‘n amptenaar dit hoog bo in ‘n bloekomboom langs die damwal raakgesien het.

Die houtplanke en sinkplate is gebruik om ‘n boomhuis te bou.

“Ek het in al my jare by die munisipaliteit al ongewone goed gesien en van snaakse goed gehoor, maar vandag se episode is iets heeltemal nuuts. Daar kan defnitief nie baie ander munisipaliteite in Suid-Afrika wees wat met onwettige plakkers in boomhuise hoog in bome sukkel nie,” sê Kritzinger.

Hy vra inwoners wat haweloses wil help, om die Nuwe Begin-skuiling vir haweloses in Brookstraat, Riverview, te ondersteun. Dié organisasie sien al 33 jaar lank na haweloses in Worcester om.

“Dit is baie belangrik – wanneer ons haweloses help, moet ons hulle op ‘n gekoördineerde en volhoubare manier help, waar hulle toegang tot al die beskikbare mediese en welsynsdienste kry wat hulle benodig.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 270499
    Vista E-edition 10 July 2025