Met van die kommentaar wat op verlede week se voorbladberig gelewer is, het die aanhalings “No knowledge is ever wasted,” en “A day without learning is a day wasted,” in die gedagtes opgekom.
Soos dit op sosialemediaplatforms gaan, is snedige opmerkings gelewer deur dié in onkunde. Die berig het oor die botaniese tuin gehandel wat in die Oppenheimer-tuine in Kimberley gevestig gaan word. Benewens dat die projek deur die Sol Plaatje-universiteit gedoen gaan word, is dié tuine in die universiteit se besit. Dit word nié meer deur die Sol Plaatje-munisipaliteit besit nie.
Juis hier kom onkunde na vore: In sovele kommentare word die universiteit met die munisipaliteit verwar, soos dat “Sol Plaatje” eerder slaggate moet regmaak. Die Sol Plaatje-universiteit is wel net 11 jaar gelede geopen, maar enigeen in die stad moes al agtergekom het dat “iets aan die gang is” rakende konstruksie.
Sommige wat wel besef dat die universiteit ‘n werklikheid is, fokus op studente se oproerige en morsjors-gedrag. Terloops, studente-betogings is nie in Suid-Afrika of in Afrika “uitgedink” nie. Van die vroegste aangetekende studentebetogings was rondom 1229 by die Universiteit van Parys in Frankryk. Morsjors-gedrag van enigiemand, asook vandalisme, kan nie goedgepraat word nie. Tog, nie alle studente is morsjorse of vandale nie. Om op die kampus van die Sol Plaatje-universiteit ‘n draai te maak kan kritici dalk tot ander insigte bring.
Terug na die aanhalings soos genoem. Amerikaner Ben Carson sr., afgetrede neurochirurg, akademikus, en meer, was die neurochirurg wat die eerste suksesvolle skeidingsoperasie tussen ‘n siamese tweeling uitgevoer het. Dié slim man het gesê: “No knowledge is ever wasted.”
Albert Einstein, onder meer die vader van die relatiwiteitsteorie, het gesê: “A day without learning is a day wasted. There is so much to learn and so little time to learn it.”
En ene Sarita Bahl, onder meer ‘n lewensafrigter van Swede: “The human brain has infinite capacity to learn new things. When you learn new things, the neurons in your brain multiply and grow. Challenging your brain keeps it younger and vibrant.”
Ten laaste, sir Karl Popper, ‘n Oostenryks-Britse filosoof en akademikus, het gesê: “True ignorance is not the absence of knowledge, but the refusal to acquire it.”
Elkeen van ons is onkundig oor talle aspekte, maar kom ons wees tog gewillig om nuwe kennis op te doen.