Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Dit is ironies dat Kimberley, wat op 2 September 1882 die eerste stad in die suidelike halfrond geword het om elektriese straatligte in werking te stel, se strate snags nou in duisternis gehul is.

Is dit nie die gloeilampe wat buite werking is nie (of wat bedags skyn en snags nie werk nie), is dit diefstal van elektriese kabels wat daartoe bydra.

Of een van die gewilde vryetyd-aktiwiteite in Kimberley: Die omry van straatligpale.

Met Wêreld Stededag op Vrydag 31 Oktober probeer ‘n mens om dié enigste stad in die Noord-Kaap met die tema van die dag vereenselwig.

Dié tema fokus op hoe datagedrewe besluitneming, tegnologie en kunsmatige intelligensie (KI) gebruik kan word om stedelike lewe te verbeter en om probleem-areas aan te spreek. Dit voel ligjare verwyder van wat in Kimberley beleef word.

Besluitneming (wat nog te sê datagedrewe besluitneming) oor die oprig van verkeershobbels op die vreemdste liggings is onder verdenking, so ook die verf van padstrepe wat binne twee weke nie meer sigbaar is nie.

Of die oprigting van nuwe watermeters wat ‘n tweejarige sal kan omskop.

Van stede gepraat, Kaapstad is in 2025 in twee verskillende opnames in topposisies van wêreldklasbestemmings geplaas.

Kaapstad is weens sy unieke kombinasie van natuurskoon, geskiedenis en dinge te doen uitgesonder. Opnames is deur Time Out en The Telegraph onderskeidelik in Januarie en Julie uitgereik.

Dit is maklik om bekoor te raak deur dié stad met sy unieke ritme, klank, atmosfeer, en ‘n fees vir die oë omdat die estetiese nog seëvier.

Tog wil ‘n mens vir Kimberley opkom. Die omliggende natuurskoon is uniek, sonsondergange betowerend mooi.

Die stad is ryk aan geskiedenis en sou Kamfersdam – die stad se grootste “riooldam” – anders aangewend en bestuur word, kon ‘n mens dalk laatmiddag langs die pan stap of op ‘n sondek sit en oor die duisende flaminke waarmee die stad (deesdae verkeerdelik) vereenselwig word, uitkyk.

LEES OOK: Sol Plaatje ‘onverskillig, nalatig’ met rioolbesoedeling van Kamfersdam

Boonop, in watter ander stad kry jy koelte- én onderdakparkering by winkelsentrums sonder om te betaal? Of kan jy binne 15 minute van een punt van die stad na die ander ry?

‘n Mens kan hoop dat Kimberley nie reeds te veel letsels opgedoen het nie, en dat tere liefdevolle versorging (en datagedrewe besluitneming, tegnologie en KI) dit weer ‘n sprankelstad maak.

You need to be Logged In to leave a comment.