Die Hoërskool Hopetown se eerste netbalspan het geskiedenis gemaak toe hulle vir die eerste keer die onlangse Arthur Johnson (AJ) Sportweek in Mosselbaai gewen het.
Hierdie prestasie is nóg meer merkwaardig aangesien die Hoërskool Hopetown ’n klein plattelandse skool is wat teen veel groter skole, insluitend sterk stadspanne, moes meeding.
“Omdat ons so ‘n klein skooltjie is het ons net 14 meisies gehad om uit te kies vir die eerste netbalspan. Ander skole teen wie ons meegeding het, het selfs vier spanne per ouderdomsgroep.” Só vertel Errin-Mari Els, sedert 2022 hoofafrigter van die span.

Hopetown se span was een van 17 spanne in die o.19-groep wat aan die sportweek vanaf 28 Maart tot 1 April by die Hoërskool Punt in Mosselbaai deelgeneem het.
“Met deursettingsvermoë, spanwerk en ’n onwrikbare geloof in mekaar het die span gewys dat ‘n klein plattelandse skool teen groot skole kan meeding. Hulle het wedstryd vir wedstryd hul harte uitgespeel en het as kampioene van die toernooi weggestap,” sê Els.

Die span se seges sluit in 21-15 teen Hoërskool Wagpos; 20-19 teen Hoërskool Punt; 23-10 teen Parklands College; 23-15 teen Hoërskool Stella; 17-15 teen Hoërskool Strand; 22-12 teen Landboudal (Hoërskool Jacobsdal); 35-9 teen Hoërskool Martin Oosthuizen; en in die eindstryd het Hopetown die Hoërskool Vredendal met 25-19 geklop.
As deel van haar motivering het Els haar span elke dag daaraan herinner dat hulle ‘n asemrowende talent gekry het.
“Ek verseker my spelers dat ek in hulle glo en weet waartoe hulle in staat is, en ek herinner hulle heeltyd sodat hulle dit van hulself ook glo. Ek het baie daarop gefokus om mekaar te ondersteun en op spangees.

“Hulle het nooit opgegee totdat die eindfluitjie geblaas het nie. Hulle weet dat harde werk en deursettingsvermoë, wat ons by Hoërskool Hopetown vir kinders leer, beloon word en dié toernooi is ‘n voorbeeld daarvan.”
- Els is onlangs gekies om Noord-Kaap Skolenetbal (NCSN) as skeidsregter tydens die Telkom Netbalkampioenskap (TNC) van 5 tot 10 Julie by die Hoërskool EG Jansen in Boksburg te verteenwoordig.

LEES OOK: ‘Onbekende’ Jantjies van Hopetown nou ‘King’ Arthur van Two Oceans
LEES OOK: Noord-Kaap se matriekuitslae toon grootste verbetering; klim van 9de na 6de posisie



You must be logged in to post a comment.