KIMBERLEY – ’n Vorige opspraakwekkende hofsaak waarin John Block, voormalige Noord-Kaapse ANC-leier, en ’n sakeman in 2015 elk 15 jaar gevangenisstraf vir korrupsie opgelê en waarvoor hulle reeds op parool vrygelaat is, is weer in die kollig geplaas met ‘n hooggeregshof-uitspraak.

Dit kom nadat die hooggeregshof in Kimberley Maandag 4 Mei die appèlaansoek van twee voormalige hoëvlak-amptenare toegestaan, maar ook ‘n ondersoek gelas het.

In die saak is Wonders Dimakatso Viljoen Mothibi, voormalige hoof van die Departement van Landbou en Grondhervorming in die Noord-Kaap, en Fezile Makiwane, die voormalige uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap (Sassa) in 2019 aangekla.

Mothibi is deur een aanklag van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) in die gesig gestaar. Dit spruit uit die ondertekening van ‘n huurooreenkoms op 9 November 2005 wat na bewering sonder die korrekte verkrygingsprosesse geskied het.

Makiwane word op sy beurt aangekla van vyf oortredings van die PFMA. Die aanklagte wissel van die beweerde onwettige toekenning van kontrakte en die ondertekening van huurooreenkomste gedurende die tydperk tussen Augustus 2006 en Junie 2007.

Die akte van beskuldiging is op 11 Desember 2019 op hulle beteken, waarna hulle in die hof verskyn het.

In die Trifecta-saak waarin Block en Christo Scholtz skuldig bevind is, is hulle aanvanklik van bedrog, geldwassery en korrupsie aangekla wat spruit uit die huur deur die Trifecta-groep-maatskappye tussen 2005 en 2008 van verskeie kommersiële geboue aan die Noord-Kaapse departemente van Maatskaplike Ontwikkeling, Landbou en Sport. Die sakeplan was om vervalle geboue te koop, dit op te knap en dan teen hoë tariewe aan die staat te verhuur.

Block, destyds ‘n hoëprofiel politikus, is skuldig bevind omdat hy sy aansienlike politieke invloed gebruik het om amptenare te beïnvloed om huurkontrakte met Trifecta aan te gaan sonder dat die voorgeskrewe tenderprosesse gevolg is.

As beloning het Block en sy maatskappy, Chisane Investment, betalings van onderskeidelik R228 000 en R500 000 ontvang kort nadat die eerste huurkontrakte vir die NCTC-gebou en Kimberlite Hotel gesluit is.

Scholtz, ‘n sake-man van Pretoria en die hoof van die Trifecta-groep, is skuldig bevind weens ‘n reeks huurkontrakte insluitend dié van die Oranje Hotel en Du Toitspan-gebou wat op onreëlmatige wyse aan hulle toegeken is deur wyle Yolanda Botha, destyds departementshoof van Maatskaplike Ontwikkeling. Botha se beloning was ‘n 10%-aandeelhouding in Trifecta aan haar familietrust.

In die jongste aanklagte het Mothibi en Makiwane in April 2022 by die streekhof aansoek gedoen vir ’n permanente staking van vervolging. Volgens die twee het die uiterse vertragings in die aanvang van hul verhoor hul reg op ’n regverdige verhoor geskend. Die betrokke streekslanddros het dié aansoek in Junie 2022 van die hand gewys.

Die landdros het in sy redes aangevoer dat die verhoorhof in ’n beter posisie sou wees om te oordeel of die verhoor uiteindelik regverdig sou wees al dan nie, en dat die publiek se vertroue in die strafregstelsel in ag geneem moet word.

Versuim uitgelig

Maandag het waarnemende regter Danie Olivier met regter Mpho Mamosebo saamgestem. Die Hooggeregshof het bevind die landdros het versuim om ’n formele ondersoek in te stel ingevolge Artikel 342A van die Strafproseswet, wat ontwerp is om onredelike vertragings in hofverrigtinge te bestuur.

Luidens die hooggeregshofuitspraak was die landdros wetlik verplig om die duur van die vertraging, die redes daarvoor, en die moontlike nadeel vir die beskuldigdes te ondersoek, te oorweeg.

Regter Olivier het bevind die landdros het die “blik so ver as moontlik in die pad afgeskop” deur te suggereer dat die verhoorhof later oor die vertragings moet besluit.

Die hooggeregshof het bevind ’n permanente staking van vervolging is ’n “drastiese middel” wat slegs in uitsonderlike gevalle toegestaan word. Die ophoping van sake op die hofrolle kan nie as verskoning gebruik word om nie aansoeke oor vertragings behoorlik te hanteer nie.

Die hof het die landdros se optrede as ’n “regsdwaling en prosedurele fout” bestempel.

Die saak is deur die regters na die streekhof terugverwys vir oorweging of die vervolging moet voortgaan of permanent gestaak moet word. Die landdros word opdrag gegee om ’n formele ondersoek te hou na die redelikheid van die vertragings in die vervolging van Mothibi en Makiwane.

Navorsing werp lig

In Robyn Foley se navorsing vir die tesis “Neopatrimonialism and State Capture: The Case of the South African Social Security Agency” (Universiteit Stellenbosch), word Makiwane se geskiedenis as die hoof van Sassa belig.

Makiwane was die hoof uitvoerende beampte by Sassa in 2009 toe kontrakte met private diensverskaffers soos CPS, Empilweni en AllPay verval het.

In Maart 2009 het hy druk op CPS geplaas deur te onthul dat hulle die enigste verskaffer was wat geweier het om dienslewering voort te sit onder die voorwaardes wat deur die Nasionale Tesourie en die Ouditeur-generaal voorgeskryf is.  Onder sy leiding het SASSA in Julie 2009 ‘n ooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) gesluit om toelae-betalings te hanteer, wat tot ‘n regstryd met CPS gelei het.

Makiwane is op 16 Julie 2009 op “spesiale verlof” geplaas ná ‘n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE). Aanvanklike bewerings het ingesluit dat hy CPS opdrag gegee het om R2,5 miljoen uit Sassa se Rekonstruksie- en Ontwikkelingsfonds te betaal vir ‘n partytjie vir Jacob Zuma in Desember 2008 by Nkandla. Daar is ook beweer dat hy die Wet op Openbare Finansiële Bestuur oortree het met betrekking tot onreëlmatige verkrygingstransaksies ter waarde van R10 miljoen.

In Januarie 2010 het Makiwane probeer bedank, maar minister Edna Molewa het dit verwerp omdat hy nie die vereiste kennis gegee het nie. Hy is amptelik op 23 April 2010 ontslaan. Hy het sy ontslag in die Arbeidshof betwis en aangevoer sy werksomstandighede is ondraaglik gemaak en dat hy vir ses en ‘n half maande geskors was sonder enige gegronde rede om sy verlof te verleng.

Volgens die navorsing is daar geen stawing van enige van die bewerings teen Makiwane nie. Makiwane het die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling gedagvaar vir reputasieskade en ‘n uitbetaling van R6,7 miljoen ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article