‘n Voormalige weermaglid, die 48-jarige Mzumanzi Zwakala, is tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis ná die moord op ‘n 18-jarige matriekleerling.
Zwakala is op Vrydag 4 Julie in die hooggeregshof in Kimberley gevonnis nadat hy die vorige dag deur waarnemende regter Dries van Tonder skuldig aan die moord op Amogelang Assegaai bevind is.
Die saak het in Oktober 2022 groot opspraak verwek. Zwakala se vriend, David Kangombe (48), is ook ná die voorval aangekeer, maar is vroeër onskuldig aan moord en sameswering tot moord bevind.
Die vonnisoplegging is Vrydag ontwrig nadat Dipuo Assegaai, ma van die vermoorde, onbeheers begin huil het. Sy het Donderdag in haar getuienis ter strafverswaring na die moordenaar gedraai en gesê sy het soveel onbeantwoorde vrae oor hoekom hy haar seun doodgeskiet het.
Verlore selfoon lei tot voorval
Assegaai was ’n gr.12-leerling aan die Kimberley Boys’ High School en is op Sondag 23 Oktober 2022 voor sy ouerhuis in Verwoerdpark in Kimberley doodgeskiet. Die voorval het gespruit uit ʼn bakleiery die Vrydagaand by Assegaai se ouerhuis toe Zwakala se seun, Kamwa, “ernstig” deur ʼn groep vriende met ʼn bierbottel aangerand en sy selfoon weggeraak het. Kamwa het tydens dié voorval ʼn seer rug en blou oog opgedoen, hy moes steke kry, en sy een tand was uit.
Sy pa, Zwakala, het daarna verskeie kere met Assegaai gepraat en geëis dat die foon teruggegee word. Assegaai het hom die Sondagaand gebel en gesê hy kan die foon kom haal. Volgens Zwakala was die selfoon beskadig en die sim- en geheuekaart weg. Zwakala het eers aangevoer hy het daardie aand net ʼn waarskuwingskoot in die lug gevuur. Later het hy gesê hy glo die koeël het van ʼn voorwerp weggespat en die seun getref.

Die regter het bevind die verswarende omstandighede weeg swaarder as die versagtende omstandighede.
Zwakala het ʼn jong man van sy toekoms beroof en sy gesin van ʼn broer, seun en kleinseun.
Volgens die regter was Zwakala nie eerlik met die hof oor wat werklik gebeur het nie. As weermaglid is hy in die gebruik van allerlei vuurwapens en die beveiliging daarvan opgelei. Hy het nie berou oor die voorval betoon nie.
Daarom het die regter van die voorgeskrewe vonnis van 15 jaar afgewyk en ʼn vonnis van 20 jaar opgelê. Zwakala is onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.
As versagting is aangevoer Zwakala is ʼn eerste oortreder en pa van vyf kinders. Sy tweede huwelik het weens die voorval gefaal. Hy het op die dag van sy skuldigbevinding uit die weermag bedank.
Ballistiese kenner gee sy weergawe
In sy uitspraak het die regter veral gesteun op die getuienis van kapt. Sibusiso Nkosi, ‘n ballistiese kenner van die polisie, en dr. Lemaine Fouché, staatspatoloog. Hulle het Zwakala se weergawe dat hy ʼn skoot in die lug gevuur het of dat die koeël weggespat en Assegaai binnegedring het, as verkeerd bewys.
Die koeël is deur die linkerskouer in ʼn effense afwaarts rigting afgevuur. Die skieter het baie naby aan die oorledene gestaan, die oorledene met sy skouer na die skieter gedraai. Die koeël het die longe en ʼn rib deurboor en het by die regterskouer vasgehaak. Die kruitstof-neerslag en brandmerke op die oorledene se skouer bewys dat die vuurwapen se loop nie verder as 30cm van hom weg was nie. Die ballistiese kenner se teorie is dat die skieter vir Assegaai aan sy T-hemp gegryp en dit van sy skouer weggetrek, die vel ontbloot het en die skoot afgevuur is.
In sy uitspraak het die regter Zwakala se getuies oor die voorval as “onbetroubaar en onmoontlik” verwerp. Hy het homself in die getuiebank weerspreek, geweier om vrae reguit te beantwoord en sy weergawes aan verskillende getuies was teenstrydig.
Dipuo Assegaai het in haar getuienis ter strafverswaring gesê daar is ʼn enorme leemte in haar en haar dogter se lewe ná haar staatmakerseun se dood. Sy ly aan depressie en kan dit nie verwerk dat haar seun in ʼn graf lê en nooit weer sal terugkom nie.
Advv. Sue-Anne Weyers-Gericke en Catherine Jansen het aangekla. Adv. Sakkie Nel het namens Zwakala opgetree.




