Mzumanzi Zwakala
Mzumanzi Zwakala FOTO: Charné Kemp

Sy het soveel onbeantwoorde vrae oor hoekom hy haar seun doodgeskiet het. Só het Dipuo Assegaai, ma van die vermoorde Amogelang Assegaai (18), Donderdag 3 Julie in die hooggeregshof in Kimberley gesê. Sy het tydens haar getuienis ter strafverswaring na die beskuldigde gedraai en dit aan hom gesê.

Mzumanzi Zwakala (48), ʼn weermaglid, is minute vantevore deur waarnemende regter Dries van Tonder aan die moord skuldig bevind. Zwakala se vriend, David Kangombe (48), is onskuldig aan moord en sameswering tot moord bevind.

Mzumanzi Zwakala in die hooggeregshof in Kimberley. Foto: Charné Kemp Credit: Charne Kemp

Assegaai was ’n gr.12-leerling aan die Kimberley Boys’ High School. Hy is op Sondag 23 Oktober 2022 voor sy ouerhuis in Verwoerdpark in Kimberley doodgeskiet. Die voorval het gespruit uit ʼn bakleiery die Vrydagaand by Assegaai se ouerhuis toe Zwakala se seun, Kamwa, “ernstig” deur ʼn groep vriende met ʼn bierbottel aangerand is en sy selfoon weggeraak het. Kamwa het glo ʼn seer rug en blou oog daarvan oorgehou, moes steke kry, en een tand was uit.

Sy pa, Zwakala, het daarna verskeie kere met Assegaai gepraat en geëis dat die foon teruggegee word. Assegaai het hom die Sondagaand gebel en gesê die foon is gevind en dat Zwakala dit kan kom haal. Volgens die moordenaar was die selfoon beskadig en die simkaart en geheuekaart weg toe sy seun daarna gekyk het. Assegaai was glo aggressief.

Zwakala het eers aangevoer hy het daardie aand net ʼn waarskuwingskoot in die lug gevuur. Later het hy gesê hy glo die koeël het van ʼn voorwerp weggespat en die seun getref.

Ma, suster het ‘enorme leemte’ in hul lewe

Dipuo Assegaai het in haar getuienis gesê daar is ʼn enorme leemte in haar en haar dogter se lewe ná haar staatmakerseun se dood. Sy ly aan depressie en kan dit nie verwerk dat haar seun in ʼn graf lê en nooit weer sal terugkom nie.

Sy het na Zwakala gedraai en hom gevra hoekom hy haar seun doodgemaak het nadat hy hom gehelp het om die verlore selfoon te vind.

Amogelang Assegaai
Die oorledene, Amogelang Assegaai. Foto: Verskaf

In sy uitspraak het die regter bevind die staat het die aanklag van moord bo alle redelike twyfel bewys. Hy het egter nie al die aspekte van die staat se hoofgetuie – wat die enigste getuie van die voorval was benewens Zwakala – aanvaar nie. Daar was wesenlike teenstrydighede met ander getuies.

Die regter het veral gesteun op die getuienis van kapt. Sibusiso Nkosi, ‘n ballistiese kenner van die polisie, en dr. Lemaine Fouché, staatspatoloog. Hulle het Zwakala se weergawe dat hy ʼn skoot in die lug gevuur het of dat die koeël weggespat en Assegaai binnegedring het, as verkeerd bewys.

Ballistiese kenner gee teorie

Die koeël is deur die linkerskouer in ʼn effense afwaartse rigting afgevuur. Die skieter het baie naby aan die oorledene gestaan, die oorledene met sy skouer na die skieter gedraai. Die koeël het die longe en ʼn rib deurboor en het by die regterskouer vasgehaak. Die koeël is net effe beskadig, waarskynlik toe dit been getref het. As dit van ʼn voorwerp soos ʼn metaalpaal weggespat het, sou dit baie meer beskadig gewees het. As die koeël in die lug geskiet en toe vir Assegaai getref het, sou die trajek anders gewees het.

Die kruitstof-residu en brandmerke op die oorledene se skouer bewys dat die vuurwapen se loop nie verder as 30cm van hom weg was nie.

Die ballistiese kenner se teorie is dat die skieter vir Assegaai aan sy T-hemp gegryp en dit van sy skouer weggetrek het, die vel ontbloot het en die skoot afgevuur is. Die T-hemp was gerek op die skouer, en daar was geen koeëlgat daarin nie.

Die regter het Zwakala se getuies oor die voorval as “onbetroubaar en onmoontlik” verwerp. Hy het homself in die getuiebank weerspreek, geweier om vrae reguit te beantwoord en sy weergawes aan verskillende getuies was teenstrydig.

Zwakala se weergawe dat hy die afvuur van die vuurwapen in ʼn beboude gebied nie by die polisiekantoor kon aanmeld omdat dit gesluit was, is onwaar. Hy het nie eens probeer om die polisie te bel nie. Boonop toon die bewegings van sy selfoon dat hy nie ná die voorval in die omgewing van die Kagisho-polisiekantoor was soos hy aangevoer het nie.

Advv. Sue-Anne Weyers-Gericke en Catherine Jansen kla aan. Adv. Sakkie Nel tree namens Zwakala op.

Die voorvonnisverhoor duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 270499
    Vista E-edition 10 July 2025