PAARL – ‘n Regsgeding speel hom tans in die Paarl-landdroshof af te midde van ‘n aantal huisgesinne wat weier om van die Fraaigelegen-plaas naby die Wemmershoekpad in die Paarl te trek.
Die grond, waar die nuwe Parelberg-winkelsentrum onlangs sy deure geopen het, is geoogmerk vir kommersiële en residensiële eiendomme en die eienaars sê by wyse van hul prokureurs dat die plaaswonings lank nie meer vir menslike bewoning geskik is nie.
Sommige plaasbewoners het vandeesweek aan Paarl Post gesê dat hulle nie tevrede is met die gratis alternatiewe behuising wat deur die grondeienaar aangebied word nie.
Angelique Stevens (52), verbonde aan die Fraaigelegen-inwonerskomitee, sê die meeste van die plaashuise bevat groot gesinne.
“Hulle wil vir ons skuif na klein tweeslaapkamereenhede in die dorp. Hoe gaan ons mense daar ‘n bestaan maak? Al wat ons ken, is die plaaslewe.
“Die meeste van ons mense sit sonder werk. Hoe gaan ons dan hierdie huise onderhou?” vra sy.
Stevens woon al haar hele lewe lank op die plaas en het ook in ‘n stadium daar gewerk.
Die Fraaigelegen-plaas het volgens Stevens tot die jaar 2002 druiwe uitgevoer.
Sy vertel dat die boerdery-praktyke daardie jaar gestop is en die meeste van die werkers afgelê is.
Die res is glo in die daaropvolgende drie jaar afgelê.
Volgens Stevens het planne om die grond vir kommersiële en residensiële doeleindes te ontwikkel, reeds in 2013 begin.
“Van daai tyd af was hier al so baie mense wat kom opnames doen het. Hulle wou ook weet hoeveel mense in elke huis woon.
“Ons het dit toe al duidelik gemaak dat sou hulle ons skuif, moet ons geskuif word na iets soortgelyk – huise wat groot genoeg is om ons groot families te huisves.”

Die Paarlse regsfirma Otto Theron Attorneys Inc. het vandeesweek by navraag aan Paarl Post bevestig dat hy reeds met uitsettingsverrigtinge begin het.
Volgens die firma het altesaam 14 huisgesinne reeds die aanbod aanvaar om na tweeslaapkamerhuise in die Paarl verskuif te word.
“Alternatiewe akkommodasie word tans voorsien aan elke huishouding wat op die eiendom woon, of is steeds onder aanbod by die bekende Mountain Ridge-behuisingsoord in die Paarl.
“Die huishoudings word voorsien van ‘n geserviseerde erf met ‘n nuutgeboude woning wat aan NHBRC-vereistes voldoen en wat in die naam van die hoof van die huishouding oorgedra sal word. Die grondeienaar finansier die koopprys, oordrag- en verskuiwingskoste,” sê die firma.
Volgens die firma is die wonings op die plaas nie geskik vir menslike bewoning nie.
“Sommige het toegang tot elektrisiteit, maar geen lopende water binne die huise nie. Ander het geen toegang tot elektrisiteit nie en slegs beperkte toegang tot water.
“Geen van die wonings is aan ‘n formele munisipale watergedrewe rioolstelsel, vullisverwyderingsdiens of drinkwaterretikulasie gekoppel nie. Die wonings is vir baie jare nie deur vorige eienaars onderhou nie en is in ‘n swak toestand.”
Die firma het dit duidelik gemaak – selfs al slaag die eienaar in die hofaansoek, sal alle inwoners (selfs dié wat geweier het om te ontruim) van alternatiewe behuising voorsien word.
Volgens die firma sal die hervestigings van die 14 gesinne wat reeds die aanbod aanvaar het, in die eerste twee maande van vanjaar plaasvind.
Verdere tydlyne vir hervestiging sal deur die hangende hofverrigtinge bepaal en gefasiliteer word.






You must be logged in to post a comment.