PAARL – Foto’s verskyn elke dag op sosiale media van hulpelose diere soos likkewane, knaagdiere, skilpaaie en bokkies wat nie gou genoeg uit die vlamme se kloue kon ontsnap nie, maar Tessa van Leeuwen Boomkamp (33) van die Paarl het dit as haar plig beskou om die hulpelose diere te red wat in die verwoestende brand in die slag gebly het – ‘n brand wat sedert verlede Woensdag, 7 Janaurie, in die vallei woed.
Tessa het drie dae gelede ‘n oproep ontvang oor ‘n duiker wat erge brandwonde op ‘n plaas buite die Paarl opgedoen het. Volgens haar was die bok in ‘n baie slegte toestand en een van sy bene was gebreek.
Tessa, ‘n dogter van Daan van Leeuwen Boomkamp, die stigter van die Drakenstein Farm Watch (DFW), het in ‘n japtrap in haar motor geklim om die duiker te gaan haal. Ná ‘n konsultasie met ‘n veearts is besluit om die duiker die genadedood toe te dien.

LEES OOK: Drakenstein steeds in rookwolk gehul; 17 000 ha sover verwoes
Daarna het sy op lang staptogte op Avondale, ‘n wynplaas buite die Paarl wat ook deur die brand geraak is, gegaan. Hier het sy slegs enkele diertjies, soos skilpaaie, teëgekom. Hulle is vrygelaat nadat minimale skade by hulle opgemerk is.
Tessa sê dit was vir haar besonders om te sien hoe die gemeenskap in oorgawe opgedaag het om te help.
“Dit is mooi om te sien hoe almal saamstaan in die naam van die diere,” sê sy.
Sy het ook tydens die verwoestende brand in 2017 in die Paarl diere in nood en ander beseerde diere bygestaan met die hulp van die publiek wat nie geskroom het om ‘n hand by te sit nie.
Volgens haar is haar passie vir diere groot omdat hulle nie hul eie stem het nie en sy vir hulle kan opstaan en praat.
Tessa is die bestuurder van ‘n vier- ster-gastehuis en staan ook haar pa by die DFW by.


